Polokwane-inwoner doen sy deel in Irak
Emsie Austen het 'n baie effektiewe manier om die gevaar waarin haar man op 'n daaglikse basis verkeer te hanteer. "Ek kyk nie nuus nie," sê sy.
POLOKWANE – Emsie Austen het ‘n baie effektiewe manier om die gevaar waarin haar man op ‘n daaglikse basis verkeer te hanteer. “Ek kyk nie nuus nie,” sê sy.
Emsie se man, Alca, werk tans in die oorloggeteiserde Irak en wanneer hy vertel van sy tyd in dié land, is dit duidelik dat sy lewe in Irak wêrelde verwyder is van sy lewe in Polokwane.
Hy vertel hy werk vir ‘n maatskappy wat verantwoordelik is vir die veilige vervoer van hoëprofiel-kliënte in Irak. “Dit beteken mens is altyd ‘n teiken,” verduidelik hy.
Alca werk reeds nege jaar lank in Irak en het beslis sy deel van oorlogs-aksie gesien. Hy sê die trauma wat hy daar beleef het is moeilik om te verwerk, maar die ergste is altyd die verlange huistoe.
“Soms is daar geen manier om my gesin te kontak nie. Dit sit baie druk op ‘n huwelik.”
Hy verduidelik dat dit veral vir sy seun, Martin, moeilik was om aan die idee gewoond te raak dat sy pa in sulke gevaarlike omstandighede werk en dat hy verskeie keer in die nag aan die slaap moes raak met sy seun wat voor sy bed slaap en aan hom vashou in die vrees dat sy pa weer sal weggaan.
Alca is trots Suid-Afrikaans en lief vir sy biltong. Hy maak altyd seker dat hy ‘n voorraad biltong saamneem wanneer hy diens gaan doen.
Wanneer hy by die huis is, maak hy tyd vir sy gesin en geniet hulle graag uitstappies en die natuurlewe saam.
Sy raad aan ander mense wat in oorlogsgebiede wil gaan werk is om seker te maak van die eise wat hierdie tipe lewensstyl aan ‘n mens stel. Daar is ook ‘n baie streng keuringsproses waardeur kandidate moet gaan voordat hulle die tipe sekuriteitswerk kan doen wat Alca doen.
In ‘n land waar Islam die botoon voer, is Alca ernstig oor sy Christenskap.
“Dis iets wat mens moet uitsorteer binne die span waarin jy werk. Jy is net so verantwoordelik vir jou spanlede as wat jy afhanklik van hulle is en mens moet verskille op ‘n positiewe manier hanteer. Ek trek die streep wanneer dit by my geloof kom en my Bybel is die eerste ding wat ek inpak wanneer ek na Irak moet vertrek.”
Wanneer hy in Suid- Afrika is, moet Alca aandag gee aan sy sekuriteitsmaatskappy.
“Ek is elke keer net vir ‘n maand of so by die huis en dan gee dit nogal ‘n gejaag af om al die besigheid se sake te hanteer voordat ek weer vertrek,” vertel hy.
Wanneer jou lewe afhang van elke beweging wat jy maak, is daar nie tyd om die reëls te bevraagteken nie, sê Alca, maar hy glimlag stout en sê hy en sy span maak tog tyd om grappe te maak en poetse te bak.



