Local NewsNews

Muni gee antwoorde oor nuwe speelpark

Die nuwe munisipale speelpark op die hoek van Diemeerstraat en Potgieterlaan in Welgelegen sal die belastingbetaler R800 000 kos.

Die nuwe munisipale speelpark op die hoek van Diemeerstraat en Potgieterlaan in Welgelegen sal die belastingbetaler R800 000 kos.

Review het met munisipale woordvoerder, Tidimalo Chuene, gepraat om te hoor hoe hierdie bedrag aangewend sal word.

“‘n Gedeelte van die begroting van R800 000 is reeds gebruik om die parkeerarea te plavei. Ons het ook materiale aangekoop vir die omheining van die park, die installasie van 15 parkbankies, skaduhuise, ‘n sandput vir die kinders se speelarea, twee droogtebestande tuine, die installasie van 10 asblikke, bome langs die sypaadjie, die bou van ‘n morabaraba-speelarea en drie braaigeriewe. Daar moet nog ‘n boorgat geboor word en voorsiening gemaak word vir kinderspeeltoerusting,” het Chuene verduidelik.

Inwoners is ongelukkig omdat hulle beweer die munisipaliteit het nie met hulle vergader om die ontwikkeling te bespreek nie, maar Chuene sê die ontwikkeling is wel met die inwoners bespreek tydens die geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering.

“Ons sal aanhoudend met die gemeenskap kommunikeer oor die ontwikkeling deur die wykskomitee-vergaderings,” het Chuene belowe.

Inwoners sê hulle voel steeds onseker en het gemengde gevoelens oor die park, want hulle vrees dat die park ongewenste elemente soos by die Florapark-dam en -park sal lok. “Daar is soveel klagtes van drank- en dwelmmisbruik by die Florapark-dam en -park, wie sê nie dis wat hier by hierdie park gaan gebeur nie. Hier is braaigeriewe, so natuurlik gaan mense hier kom kuier en dit gaan nie bly by koeldrank nie. Wat gaan die munisipaliteit doen om kontrole te hou sodat die mense nie hier gaan kom raas met harde musiek en die plek soos ‘n varkhok los nadat hulle gekuier het nie,” wil een van die inwoners weet.

Chuene sê die park is daar vir die stad se inwoners se ontspanning.

“Die munisipaliteit werk saam met die polisie om misdaad en geraasbesoedeling te bekamp,” stel Chuene inwoners gerus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button