Melkery gekroon as beste in die noorde
Limpopo Melkery in Makhado is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar aangewys as die Elite Suiwelboer van die Noordstreek tydens 'n prysuitdelingseremonie in Pretoria Vrydag.
MAKHADO – Limpopo Melkery in Makhado is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar aangewys as die Elite Suiwelboer van die Noordstreek tydens ‘n prysuitdelingseremonie in Pretoria Vrydag.
Die oorhandiging is gedoen deur die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Die-reverbeteringsvereniging, beter bekend onder boere as “stamboek”.
“Stamboek neem maandeliks melkaantekeninge van boere se kuddes om sekere inligting daaruit te verky.
“Hierdie inligting het te doen met die produktiwiteit van ‘n melkery, die effektiwiteit van ‘n besigheid of maatskappy, die gesondheid van die diere, die genetiese potensiaal van ‘n kudde en die kwaliteit van die melk,” het Joubert Fourie van Limpopo Melkery verduidelik.
Limpopo Melkery is aangewys as die Elite Suiwelboer van die Noordstreek.
Die Noordstreek bestaan uit vier provinsies, Limpopo, Gauteng, Noord-Wes en Mpumalanga.
“Ek het ‘n baie goeie span agter my wat baie hard saam met my werk.
“Willa Vorster wat saam met my by die funksie was is my kuddebestuurder en sy vrou, Petro, is in beheer van al die kalwers.
“Verder is ons ook baie bevoorreg dat ons melkspan aangewys is as die beste melkspan van al die melkerye in die Noordstreek.
“Ons kudde het ook die prys gekry as die beste genetiese kudde en ons het sesde gekom in die somatiese selltelling-afdeling.”



