Local NewsNews

Wrede gifdood vir katjie

'n Hartseer Marieke Meyer vertel dat haar katjie, Parker, wat nog nie eers 'n jaar oud was nie, verlede week vergiftig is in die kompleks waar sy en haar man woon. Sy is by die werk gekontak deur haar huishulp wat gesê het dat haar kat baie naar is en diarree het.

POLOKWANE – ‘n Hartseer Marieke Meyer vertel dat haar katjie, Parker, wat nog nie eers ‘n jaar oud was nie, verlede week vergiftig is in die kompleks waar sy en haar man woon.

Sy is by die werk gekontak deur haar huishulp wat gesê het dat haar kat baie naar is en diarree het.

Marieke het dadelik huistoe gejaag en die katjie na die veearts geneem.

“Toe ek by die huis kom het ek gesien dat dit reeds te laat is, maar het besluit om in elk geval veearts toe te gaan, dalk kon hulle hom deurhaal.”

Die veearts se pogings om Parker te red was tevergeefs. Hy het vir Marieke gesê dat Temik (two-step) gebruik is om Parker te vergiftig en dat dit met tuna, waarvoor katte baie lief is, gemeng was.

“Ons maak nou maar liewer die ander katte in die huis toe as ons gaan werk uit vrees dat hulle ook vergiftig sal word, ” sê Marieke.

Sy meen dat as katte in die kompleks vergiftig word, mag daar ‘n rotprobleem ontstaan wat weer slange kan lok, aangesien die kompleks naby oop velde is.

“Parker was die liefdevolste katjie.

“Ek sou verkies het dat die persoon eerder kom sê het as hy ‘n oorlas was.

“Ons sou beslis ‘n plan gemaak het met hom, maar ongelukkig is katte nie diere wat ingeperk kan word nie, hulle is nie gebonde aan huise, erwe of tuine nie. Dit is in hulle aard.”

Sy sê dat hulle by al die reëls van die kompleks gehou het nadat die kompleks se bestuur ‘n brief uitgestuur het om kateienaars te versoek om hulle diere snags binnenshuis te hou en dat katte se naels geknip moet word ten einde te voorkom dat hulle ander mense se motors kan beskadig.

Sy pleit by mense om nie ander mense se diere te vergiftig nie.

“Dit is onmenslik, harteloos en wreed. Ons as mense is mos nie al lewe wat die reg het om hier te woon nie.”

Polokwane polisiewoordvoerder, AO Lesiba Ramoshaba, sê die polisie ontvang van tyd tot tyd klagtes in hierdie verband, en ondersoek dan ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging.

“Ons werk baie nou saam met die DBV om dié uitdagings te takel.”

Volgens hom kan sulke sake by die DBV of by die polisie aangemeld word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button