Melanie dra kinders op haar hart
Wanneer dit kom by gemeenskapsbetrokkenheid kan min mense maklik kers vashou by Melanie Denner.
Wanneer dit kom by gemeenskapsbetrokkenheid kan min mense maklik kers vashou by Melanie Denner.
Melanie staan haar plek vierkantig vol in Makhado en doen altyd haar bes om inwoners van die dorp te help.
Alhoewel sy verpleging studeer het, het sy nooit in daardie rigting gewerk nie, maar haar liefde vir mense en behoefte om ander te help het op ander maniere na vore gekom.
As eienaar van Fleet Alignment Services, ‘n besigheid wat wielsporing vir groot vragmotors doen, moet Melanie versigtig met haar tyd omgaan, maar sy maak altyd tyd om by haar gemeenskap betrokke te wees.
Haar man, Hendrie, en seuns Hendrie jnr. en Werner ondersteun haar ten volle.
Sy dien op die maatskaplike raad van Laerskool Louis Trichardt, is die stigter van hierdie skool se Helpende Hand-projek en spring gereeld in om by skoolfunksies hand by te sit.
Melanie het met Review gesels oor die Helpende Hand-projek, ‘n projek wat sekermaak dat leerders van minderbevoorregte gesinne elke dag iets te ete kry by die skool.
“Ek doen dit omdat ek lief is vir mense en my hart baie sag is. Ek wil mense help waar ek kan.
“Met hierdie broodjieprojek gee ons daagliks vir 40 leerders elk ‘n toebroodjie. Dit is vir ons baie belangrik om te weet dat hierdie kinders se ma-gies vol is by die skool.
“Ek het die projek begin toe my seun in gr. 5 was. Hy het broodjies skool toe gevat en vir ander kinders gegee en ek het besef dat daar ‘n groot behoefte by dié skool is,” verduidelik Melanie.
Om betrokke te raak by die Helpende Hand-projek by Laerskool Louis Trichardt, stuur gerus ‘n e-pos aan melaniesp@gmail.com.



