Lewenspad in kleur
Willie van der Merwe (42) het kleintyd al begin om gedigte en kortverhale te skryf. Vandag is hy 'n gereelde bydraer tot verskeie internetpublikasies.
POLOKWANE – Willie van der Merwe (42) het kleintyd al begin om gedigte en kortverhale te skryf.
Vandag is hy ‘n gereelde bydraer tot verskeie internetpublikasies.
Nadat hy aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het, het hy by die Universiteit van Pretoria ingeskakel waar hy B.Sc-vakke soos fisika, chemie, toegepaste wiskunde en wiskunde studeer het.
“Ongelukkig moes ek my studies staak aan die begin van die tweede semester in my eerstejaar. Ek het by ‘n gimnasium begin werk, maar die gimnasium is later deur nuwe eienaars oorgeneem en ons was nie meer seker oor ons werk nie.
“Ek het besluit om deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te studeer en het my toegespits op filosofie en tale.
“Ek wou nooit regtig ‘n graad vang nie, ek het dit net gedoen om my brein te stimuleer,” het Willie vertel.
Intussen het Willie sy hand aan vele projekte geslaan en selfs illustrasies gedoen vir klasgidse van die Universiteit van Limpopo.
Hy het ook begin skryf en sy eerste boek, wat hy self geskryf, geïllustreer en publiseer het, het oor dinosourusse gehandel.
In 1999 het hy begin skilder.
“Ek het eers van my eie foto’s af gewerk en kunsklasse bygewoon by Catherine van Schalkwyk. Sy het gefokus op waterverf en vandag het ek steeds ‘n voorliefde vir waterverf. Ek werk ook met olieverf.”
Willie het verskeie kunsuitstallings aangebied en steeds aanhou skryf, spesifiek vir die aanlyntydskrif, The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy: Earth Edition.
Saam met sy navorsing oor plante en diere het hy van sy eie illustrasies gebruik in hierdie artikels. Alhoewel hy meestal van sy eie foto’s gebruik het vir artikels, het hy ook al gebruik gemaak van vriende se foto’s.
Willie het verduidelik dat hy belangstel in inheemse plante wat hy self ook begin kweek het.
“Ek droom daarvan om eendag ‘n stukkie grond te besit waar ek ‘n botaniese tuin kan begin. Intussen groei ek maar plante in my eie tuin en verkoop sommige van hulle,” het hy vertel.



