Local NewsNews

Westenburg-inwoners woedend omdat ‘boef’ borgtog gekry het

Inwoners van Westenburg is ongelukkig omdat 'n beweerde dief vrygelaat is na hulle hom verlede Sondagaand gevang het en aan die Westenburg-polisie oorhandig het.

POLOKWANE – Inwoners van Westenburg is ongelukkig omdat ‘n beweerde dief vrygelaat is na hulle hom verlede Sondagaand gevang het en aan die Westenburg-polisie oorhandig het.

Die inwoners beweer dat die verdagte, wat in sy 20’s is, ‘n vierjarige kind se selfoon gesteel het in Nagelstraat.

“Die kind was saam met sy sewejarige broer voor hul huis, toe die verdagte hulle genader het en die selfoon by die kind afgevat het. Hy het weggestap en die kinders het vir die volwassenes in die huis gaan sê wat gebeur het,” het een van die inwoners verduidelik.

‘n Soektog na die verdagte is deur die gemeenskap begin in Westenburg en omliggende areas. Na ‘n lang soektog is die verdagte net na 18:00 gevang.

“Kinders het die man raakgesien en die gemeenskap laat weet. Hy woon saam met sy ma en die inwoners het by haar huis ingegaan en hom in een van die slaapkamers gevind. Hulle het hom ‘n goeie pakslae gegee en daarna na die polisiestasie geneem. ‘n Saak van diefstal is geopen en die man is gearresteer,” het ‘n ander inwoner gesê.

Hy het bygevoeg dat dit nie die eerste keer was dat die man in die moeilikheid was nie.

“Hy was betrokke by verskillende huisbrake in ons woonbuurt en elke keer word hy vrygelaat op borgtog. As die gereg nie seker maak die boewe bly agter tralies nie, sal ons seker maak hulle kry die straf wat hulle verdien,” het een van die inwoners gesê.

Die inwoners beweer dat die verdagte van Pretoria kom en dat hy en sy ma na Polokwane gevlug het omdat sy lewe bedreig was deur die gemeenskap waar hy voorheen gewoon het.

“Hy het in Pretoria ook misdrywe gepleeg en die gemeenskap wou hom doodmaak, dis hoe hy en sy ma hier beland het. Hy maak hom laat as hy dink hy gaan ons gemeenskap op horings dra, want ons gaan dit nie duld nie en gaan hom goed vasvat as die gereg en polisie dit nie doen nie. Hierdie boodskap gaan uit na elke ander boef wat dink hy of sy kan ons besteel en daarmee wegkom,” het die inwoners gewaarsku.

Kapt. Mohlaka Mashiane, Westenburg-polisiewoordvoerder, het bevestig dat die gemeenskap ‘n verdagte gevang het en dat hy reeds in die Polokwane landdroshof verskyn het. Hy het gesê die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button