
POLOKWANE – Drie vermeende selfoon-rowers het Woensdag hul rieme styfgeloop nadag hulle deur lede van die Edwel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vasgetrek is.
Die drie mans is verdink daarvan dat hulle in verskeie voorvalle leerders van plaaslike skole van hul selfone beroof het.
Edwel se bestuur verduidelik dat die eerste voorval verlede Maandag plaasgevind het toe ‘n leerder van sy selfoon beroof is in Dorpstraat.
Die leerder het ‘n beskrywing van die voertuig waarmee die rowers weggery het, ‘n wit Volkswagen Polo, gegee en ook die registrasienommer van die voertuig neergeskryf.
Die polisie het later gevind dat die nommerplate van ‘n ander voertuig afgesteel is en dus nie nagespoor kon word nie.
Die leerder het ook gesê dat die man wat hom van sy selfoon beroof het sy gesig met ‘n rooi kopband (bandana) toegemaak het.
Edwel het deur middel van hul WhatsApp-groep asook deur radioverbinding die gemeenskap gewaarsku teen die vermeende rowers en ook ‘n beskrywing van die Polo gegee.
Woensdagaand is nog ‘n leerder in Harleystraat beroof van sy selfoon. Die leerder het dieselfde beskrywing van ‘n wit Polo gegee, maar het gesê die motor het nie enige nommerplate gehad nie.
Volgens Edwel se bestuur het die verdagtes in beide gevalle doodluiters langs die leerders gestop, die selfone gegryp, en daarna weer in die motor geklim en weggery.
Tydens Woensdag se voorval het ‘n ooggetuie, wat ook lid van Edwel is, die GPF gekontak kort nadat die leerder van sy selfoon beroof is.
Edwel-lede wat op patrollie was het dadelik gereageer en die Polo voor die Rethabile Kliniek in Magazynstraat opgespoor.
Volgens die Edwel-bestuur het die patrollielede die motor van die pad gedwing en die polisie gekontak.
Kapt. Ntobeng Phala, Polokwane polisie-woordvoerder, het gesê dat polisiebeamptes wat na die toneel ontbied is die mans ondervra het en dat al drie mans uiteindelik erken het dat hulle betrokke was by die rooftogte.
“Polisiebeamptes het ook op ‘n rooi kopband en ander kledingstukke, wat deur die leerders wat beroof is beskryf is, in die voertuig gekry,” het Phala gesê.
Hy het die Edwel-lede geprys vir hulle vinnige optrede en die diens wat hulle aan die gemeenskap lewer.
Hy het gesê Edwel is ‘n sprekende voorbeeld van hoe ‘n GPF en die polisie kan saamwerk om misdaad te bekamp.
Phala het ook ‘n beroep gedoen op alle inwoners om gebruik te maak van sosiale media soos WhatsApp-groepe om inligting oor misdaad te versprei.
“Sluit aan by jou plaaslike GPF. Jou bure is dikwels jou eerste kans op hulp in ‘n noodgeval. Dit is belangrik dat mense hul bure moet ken,” het hy gesê.
Die Edwel-bestuur het ook hulle dank uitgespreek teenoor die patrollielede wat so vinnig en effektief opgetree het om misdadigers aan die pen te laat ry.



