CrimeNews

Bejaarde egpaar dankbaar om te lewe na aanval op hulle plaas

N BEJAARDE egpaar van die plaas Tobias Stasie, ongeveer 7km buite Mookgopong, is verlede Donderdag laatnag deur vyf mans oorval.

MOKOPANE – ‘N BEJAARDE egpaar van die plaas Tobias Stasie, ongeveer 7km buite Mookgopong, is verlede Donderdag laatnag deur vyf mans oorval.

Die 62-jarige Ina en 63-jarige David Naudé is aangerand en David is met ‘n koevoet teen die kop geslaan nadat die vyf mans die veiligheidshek asook die voordeur met ‘n koevoet oopforseer het en met ‘n stok,waaraan draad aan die voorkant gebind is, die sleutel van die veiligheidshek in die gang afgehak en oopgesluit het.

Die verdagtes het die sleutels van die kluis beveel en vir Ina en David in die badkamer toegesluit waarna hulle die veiligheidshek in die gang ook gesluit het.

Ina het ‘n skêr in die badkamerkassie gevind, waarmee sy hulle losgesny het en sy het met ‘n byl die veiligheidshek oopgekap.

Hulle is toe dadelik na die Mookgophong polisiestasie en is vir ligte beserings en skok by die plaaslike kliniek behandel.

Die spoorsnyers is in die oggendure ontbied om die polisie te help om die spoor van die verdagtes te probeer volg.

Die verdagtes het juwele, versamelmunte, ‘n televisie, skootrekenaar, selfone en ‘n rewolwer gesteel, rapporteer Vossie Vosloo, een van die spoorsnyers, aan Bosveld Maandag. “Ek is ‘n ligte slaper en het nie eens wakker geword toe die mans hulle toegang tot die huis forseer het nie,” sê Ina.

Ina en David bedank die polisie en spoorsnyers vir hulle vinnige optrede en hulp, hulle bedank ook al hulle vriende, familie, en die gemeenskap vir al die ondersteuning. “Ek dank ons Hemelse Vader vir die kalmte waarmee Hy my in die situasie geseën het en dat ek en my man nog lewe,” sê Ina.

Volgens kolonel Jan Koekemoer, stasiebevelvoerder van Mookgophong polisiestasie, is dit ‘n voortgesette ondersoek en ‘n saak van huisroof is oopgemaak.

Niemand is sover in hegtenis geneem nie.

Indien enige iemand inligting rakende die saak kan verskaf kan hulle vir adjutant Koos Botha kontak op 076 553 7224.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button