Foto's: Annalize Steyn
MOKOPANE – ‘N SEKURITEITSBEAMPTE is na die Voortrekker Hospitaal gejaag in die oggendure van 22 Maart toe hy wou hulp verleen op ‘n ongelukstoneel en met ‘n klip geslaan is.
Juan Cook en Eugene King van Special Operations Solutions, (SOS), was aan diens toe hulle omstreeks 03:30 stilhou by ‘n ongelukstoneel op die hoek van Dudu Madisha en De Klerkstraat waar ‘n BMW op sy sy geland het.
“Dit het gelyk asof die bestuurder beheer oor die kar verloor het en dit het voorgekom asof die passasier in ‘n kritieke toestand was. ‘n Verbyganger het voor ons op die toneel verskyn en hulp verleen, hy het die polisie gekontak en begin foto’s neem van die toneel toe die bestuurder uitklim en hom begin aanval. Eugene het vinnig ingespring om die situasie te probeer red. Ek het na my kar gedraai om hulp te ontbied toe die passasier wonderbaarlik uit die kar spring ‘n klip optel en my oor die kop slaan, waarna die bestuurder my selfoon uit my broeksak gehaal het,” vertel Juan aan Bosveld.
Jaun is deur Maponya ambulansdienste, wat reeds op die toneel was, na die Voortrekker Hospitaal gejaag waar hy sewe steke ontvang het en behandel is vir ligte harsingskudding.
Eugene het hulp ontbied en Garry O’Farrel, eienaar van SOS, het dadelik kom help.
O’Farrel sê, “toe ek op die toneel verskyn was daar reeds ‘n polisiebeampte en tot my skok ‘n ander sekuriteitsmaatskappy wat ek betrap goedere uit SOS se kar steel. Ek het hom gekonfronteer en hy het dit dadelik ontken.
“Terwyl ek in bespreking met die polisiebeampte was het die passasier my uit die bloute met die kop geslaan, ek het dadelik die polisiebeampte gevra of hy hom nie gaan arresteer nie, toe hy eenvoudig vir my sê dat hy niks gesien het nie.”
O’Farrel is na die Mokopane polisiestasie om ‘n saak van aanranding teen die passasier van die ongeluk oop te maak.
“Die polisiebeampte het geweier om ‘n saak van aanranding oop te maak, eers nadat ons ons prokureurs gebel het en hy die toestand van Juan gesien het, nadat Juan van die hospitaal gekom het, het die beampte ingestem om ‘n saak oop te maak,” sê O’Farrel.
O’Farrel stel die vraag: “As daar weer ‘n ongeluk is moet SOS stop en hulp verleen as dit die stank vir dank is wat ons kry?”
” ‘n Saak van aanranding is oopgemaak en die ondersoek duur voort. Niemand is sover in hegtenis geneem nie,” sê konstabel Mmadikgale Masingi, woorvoerder vir die Mokopane polisiestasie.




