Donovan lei Tafel
Donovan Snyman wil graag hierdie jaar 'n projek aanbied waar hulle nie net geld vir die gemeenskap insamel nie, maar ook genoeg om die klubhuis reg te maak.
POLOKWANE – Jare gelede, net nadat Donovan Snyman sy skoolloopbaan voltooi het, het ‘n vriend van hom, Jacques Vonderstein, hom bekend gestel aan die Tafelronde.
“Ek was egter nie gereed om aan te sluit by die Tafelronde nie, en het eers in 2010 ‘n lid geword van die Tafelronde Impala 157,” vertel Donovan.
“Toe ek in 2010 besluit het om deel te raak van die span, het ek weer na Jacques toe gegaan en het hy my voorgestel aan die regte mense. Die Tafelronde is ‘n organisasie vir besigheidmans onder 40. Ons doen baie gemeenskapswerk.”
Donovan is tans ‘n finansiële beplanner en getroud met Alecia. Hulle het ‘n seun, Luke, en ‘n dogter, Emily.
Vir Donovan die die beste aspek van die Tafelronde dat hy sien hoe ander besighede werk en ook hoe hy meer van homself kan gee. Hy vertel die klub bestaan uit vriende wat saam projekte aanpak.
“Projekte waar ons betrokke is, sluit in die Kansa trollieresies, die Relay For Life en ook Winter Knights, waar ons komberse en nie-bederfbare kos vir minderbevoorregte mense insamel.”
Aangesien hulle klubhuis onlangs geplunder en beroof is, wil hulle graag hierdie jaar ‘n projek aanbied waar hulle nie net geld vir die gemeenskap insamel nie, maar ook genoeg om die klubhuis reg te maak.
“My werk as voorsitter behels om die klub the lei en te bestuur in ‘n rigting sodat ons kan uitbrei in ledegetalle en om ons verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap na te kom,” vertel hy.
Donovan was voorheen tesourier en addisionele lid en vertel dat sy kennis van besigheid hom ook baie help. Jaarliks is daar ‘n algemene vergadering in Namibië waartydens idees tussen verskillende Tafels uitgeruil word. Een keer per jaar gaan van die Tafelaars ook na Duitsland of Holland.
Die Tafelronde Impala 157-klubs in Duitsland en Holland stuur ook van hulle mense na Suid-Afrika en Donovan vertel dat daardie mense baie geld in Suid-Afrika belê.
“Ons kan egter nie suksesvol wees sonder ons vroue wat ons ondersteun nie. Hulle help ons geweldig baie. En een maal elke jaar kyk ons mans na die kinders en stuur die vroue op ‘n bederfnaweek, want hulle verdien dit.”
Donovan vertel die moeilikste aspek van Tafelronde is om al jou tyd te gee. Hy is ook tesourier van Tafelronde in die bosveld area. “Ek geniet dit egter baie. En sal enige jong man aanraai om by ons aan te sluit.”



