Oom Peet-hulle is terug
Peet Venter en sy woonwa-kafee van vroëer jare voor die belastinggaarder se kantore is welbekend onder inwoners van die stad.
POLOKWANE – Peet Venter en sy woonwa-kafee van vroëer jare voor die belastinggaarder se kantore is welbekend onder inwoners van die stad.
Hier het hy vir jare lank ander se honger of dors gestil met ‘n glimlag en ‘n groet.
Weens omstandighede was hy mettertyd genoodsaak om die woonwa te verhuur en af te tree.
Peet, wat in Polokwane grootgeword het, en sy vrou, het toe besluit om Polokwane te verruil vir ‘n jaar in Pretoria.
‘n Jaar in Louis Trichardt het gevolg en uiteindelik het alle paaie hierheen teruggelei.
Onlangs het hy egter teëspoed van ‘n ander aard oorgekom.
“Kort na ek destyds uit die skool is, het ek my onderste kakebeen in rugby seergemaak. Sedertdien het ek heelwat probleme gehad en ek moes later implantate kry.”
Oor die jare het hy verskeie dokters in “die stad”, menende Pretoria, geraadpleeg omdat hy soos talle ander geglo het die beste dokters is elders.
Hy was egter nooit tevrede met hul werk nie en vertel hoe die implantate dikwels gebreek het en hoe hy dan met ‘n seer mond moes terugry vir herstelwerk.
Sowat ses weke gelede het hy weer probleme ondervind, en dié keer by plaaslike dokter Nic van Rheede van Oudshoorn gaan aanklop. “Die was die beste diens wat ek in jare gekry het,” vertel Peet.
“Die ontvangsdames was vriendelik en professioneel en die dokter het sy werk baie goed gedoen. Ek het nou permanente implantate en tydelike ondertande. Ek kan nou selfs biltong eet. Ek is so in my skik ek wil sing en vir almal vertel.”
Van Reede van Oudtshoorn was oorweldig deur die positiewe terugvoer.
“Ek het die voorreg om in die wonderlikste professie op aarde te wees en hierdie kompliment maak alles die moeite werd,” het hy gesê.
Intussen het die Venters hulself weer opnuut ingeburger in ‘n stad waar, wel, almal hulle naam ken.



