Editor's choiceNewsSchools

In die water is waar dié 11-jarige wil wees

Met Ryk Neethling en Natalie du Toit as haar swemhelde leef Marjoné de Beer (11) haar swemdroom. Die goue medalje wat om haar nek hang is 'n bewys van haar swemtalent.

POLOKWANE – Met Ryk Neethling en Natalie du Toit as haar swemhelde leef Marjoné de Beer (11) haar swemdroom. Die goue medalje wat om haar nek hang is ‘n bewys van haar swemtalent. Dié medalje het sy tydens die Ebenezer Myl ontvang, waar sy derde in die o/13-afdeling geëindig het (die eerste drie plekke verwerf goud in die myl).

Marjoné is ‘n gr. 5-leerder aan Laerskool Pietersburg. Sy is duidelik baie trots op haar prestasie.

“Dit is nou die derde keer dat ek aan die Ebenezer Myl deelneem, maar my eerste goue medalje,” vertel sy. Sy vertel trots dat sy nog elke Ebenezer Myl saam haar ma, Nelia swem, en alhoewel hierdie haar beste poging nog was, sy nog elke keer onder die top 10 deelnemers geëindig het.

Sy het ook onlangs aan die Inter-Provinsiale Swemgala in Mokopane deelgeneem waar sy ‘n tweede plek in die 50 m rugslag en 200 m individuele wisselslag behaal het. Sy het ‘n derde plek in die 50 m vryslag, ‘n vierde plek in die 50 m vlinderslag en ‘n vyfde plek in die 50 m borsslag behaal. “Ons is ongelooflik trots op haar en ondersteun haar ten volle, ons hoop sy doen nog baie goed,” sê haar ouers, Tjoppa en Nelia. Marjoné se paddavoete het al op twee jaar oud in die water begin skop, maar sy het eers later besluit dis is iets wat sy heeltyd wil doen.

“Ek hou van swem net omdat dit lekker is vir my, dis die groot rede, ek geniet dit net,” sê sy.

Sy oefen vyf keer ‘n week vir ‘n uur en ‘n half by die Eagar Aquatics Swimming Academy. Sy spog dat een van haar swemhelde, naamlik Neethling, haar getroos het toe sy geval het tydens ‘n oefenkamp wat hy bygewoon het.

Wanneer sy nie in die water is nie, geniet sy graag netbal, hokkie en landloop. Sy sê dat die swemstyl waarin sy die beste presteer rugslag is, maar dat haar gunsteling swemstyl vryslag is. Haar droom is om eendag in die Olimpiese Spele te swem.

Maar soos enige amper-tiener is die lekker van die sport die groot trekpleister. “Dit is vir my lekker om te swem want ek is saam al my maats en ons kuier na elke oefensessie,” vertel sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button