Bejaardes vertelvan die ‘ou dae’
Daar kom 'n tyd in 'n mens se lewe waar jy sit en terug dink aan jou lewe. Review het met inwoners van die stad in hul skemerjare gaan gesels oor hul lewens.
POLOKWANE – Daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe waar jy sit en terug dink aan jou lewe.
Aan die blydskap, hartseer oomblikke, aan vriende en familie. Review het met inwoners van die stad in hul skemerjare gaan gesels oor hul lewens.

“Ek kan nie onthou dat daar iemand spesifiek was wat ‘n verskil in my lewe gemaak het nie. Ek onthou gelukkige tye toe ek vis gevang het en tennis en rugby gespeel het,” vertel Frederick Venter.

Vir Gideon Pretorius was sy ma ‘n rolmodel. “Sy was ‘n kind van God en het gereeld haar gebede neer geskryf. Ek was vir 25 jaar gelukkig getroud met ‘n wonderlike vrou, haar naam was Pats. In my lewe het ek geleer dat ‘n mens nie moet lieg nie en dat jy altyd ‘n reguit pad moet loop.”

Vir Lulu van der Merwe, het haar oom ‘n groot verskil in haar lewe gemaak. Sy vertel hy was ‘n geleerde man wat op ‘n plaas gewoon het. “Hy het deelgeneem aan sport en was ‘n afgeronde figuur. In my lewe het ek geleer dat dit nie ‘n goeie idee is om te drink en te bestuur nie.”

Betty Stanley Best se pa was haar rolmodel en hy het vir haar baie stories vertel. “Hy is al ‘n lank tyd terug oorlede, maar ek onthou hom nog en die stories wat hy my vertel het.”
Marie Swart vertel dat sy ‘n onderwyseres op skool gehad het wat gereeld vir haar raad en hulp gegee het. “Ek onthou ook my skooljare as van die gelukkigste tye in my lewe. Ek is ook baie trots op wat ek daar gedoen het, ek het altyd hard geleer.”




