Local NewsNews

Onbekende kinderheldbeeld is steeds soek

Besoekers aan die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana sê hulle is steeds nie gelukkig met die diefstal van die beeld van die onbekende kinderheld wat by die ingang van die kerkhof gestaan het nie.

POLOKWANE – Besoekers aan die Pietersburg Konsentrasiekampkerkhof in Nirvana sê hulle is steeds nie gelukkig met die diefstal van die beeld van die onbekende kinderheld wat by die ingang van die kerkhof gestaan het nie. Die beeldjie is in Mei 2014 vanuit die konsentrasiekamp gesteel en die munisipaliteit is daarvan beskuldig dat die beeldjie gesteel is omdat die hek van die kamp nooit gesluit word nie.

Die beeldjie wat die lyding wat in die konsentrasiekamp deurgemaak is verteenwoordig word beskou as deel van die geskiedenis van die stad.

Johan Willemse, raadslid van die munisipaliteit, sê dit was tydens ‘n besoek dat hy besef het dat die beeldjie weereens voete gekry het ten spyte van die omheining wat met slotte en betonversterkings opgerig is.

Willemse sê hy het die saak aangemeld by senior munisipale personeellede, Henry Lubbe en Maxwell Ledwaba. Hy sê Ledwaba het ‘n saak van diefstal en beskadiging van ‘n nasionale erfenis by die polisie geopen.

Volgens Willemse het Ledwaba ‘n skriftelike verslag voltooi, waarna die munisipaliteit se kultuurdienste hul versekeringsmaatskappy moet kontak om die beeldjie te vervang.

Die beeldjie van die dogtertjie is deur bekende beeldhouer, Jo Roos geskep en op 16 Desember 1993 is dié beeldjie deur Willie en Cecilia Snyman onthul.

Die beeldjie het eers op die gedenkmuur van die begraafplaas gestaan, maar is gesteel en later by skroothandelaars gevind.

In 2002 is die beeldjie na ‘n meer prominente plek geskuif waar sy voor die begraafplaas staan en oor die grafte uitkyk.

Weereens is die beeldjie gesteel en by ‘n skroothandelaar gevind. Daarna is dit in veilige bewaring in die Irish House Museum gehou tot in 2005 waarna die beeld weer by die kerkhof opgerig is.

Willemse sê die kerkhof word baie mooi onderhou deur die Polokwane Munisipaliteit, maar dat die hek altyd oopstaan en daarom kon die beeldjie so maklik verwyder word.

Willemse het ook gesê dat hy in kennis gestel is deur die bestuurder van kultuursake by die munisipaliteit, Stefan Bosman, dat die munisipaliteit tans besig is met onderhandelinge met die beeldhouer, wyle Jo Roos se seuns, wat die gietery nou bedryf. Hulle wil ‘n sement replika van twee-derdes die groote oprig aangesien ‘n gegote weergawe relatief duur sal wees en tyd sal neem om te maak.

“Die vernietiging van dele van ons nasionale erfenis raak ‘n snelgroeiende probleem wat die waarneming en optrede van elke landsburger noodsaak. Enige monument, gedenkteken of kultuurhistoriese struktuur wat verwaarloos, kwaadwillig beskadig, of afgebreek word, moet aan die instansies wat betrokke is by erfenisbewaring aangemeld word.”

Munisipale woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê die munisipaliteit is besig met ‘n ondersoek na die diefsal van die beeldjie en daar is ‘n verslag opgestel nadat die ondersoek afgehandel is en die beeldjie sal vervang word.

“Vandalisme, veral deur kinders, is gewoonlik die rede dat ‘n begraafplaas soos hierdie geteiken word en dit is vir die munisipaliteit ‘n groot probleem in afgeleë plekke soos hierdie waar gereelde skending van munisipale eiendom plaasvind.

“Inwoners wat weet van vandalisme moet asseblief die Polokwane munisipaliteit kontak by (015) 290 2000 en hierdie voorvalle raporteer,” sê Chuene.

Enige inligting oor hierdie gesteelde beeldjie askook inligting oor die skending, verwaarlosing of diefstal van erfenisse of kultuurgeskiedenis kan by Willemse aangemeld word by (015) 297 5922 of 072 197 3134, of stuur ‘n e-pos aan erfenisse@mweb.co.za.

Oom Johan wil standbeelde red

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button