Bosveld NewsNews

BOSVELDPRAATJIES: Ook net in Suid-Afrika kan só ‘n ongeleerde persoon president van die land word

WAAR in die wêreld kan jy president word met net standerd 4, en dan is daar nie eers een hoërskool wat jou 'n ere-matriek wil aanbied nie, met vyf vroue trou en net een skei jou, 21 kinders verwek vir wie 'n nasie uit dankbaarheid oor jou viriliteit instaan vir hul bestaansuitgawes en jou 'n papie in die parlement lag sonder dat daar eers 'n sirkustent naby is?

WAAR in die wêreld kan jy president word met net standerd 4, en dan is daar nie eers een hoërskool wat jou ‘n ere-matriek wil aanbied nie, met vyf vroue trou en net een skei jou, 21 kinders verwek vir wie ‘n nasie uit dankbaarheid oor jou viriliteit instaan vir hul bestaansuitgawes en jou ‘n papie in die parlement lag sonder dat daar eers ‘n sirkustent naby is?

En dan adverteer jy vir ‘n lyfbediende om na jou en jou vrouens se klere en netheid om te sien, maar, en dis die grap, die persoon moet akademies beter gekwalifiseerd wees as wat jy as president van die land is om onder meer jou skoene blink gepoets te hou.

Die gelukkige kandidaat vir die pos moet darem minstens graad 10 hê.

Net in Suid Afrika, ons wonderlike land, kan so iets gebeur en is alles blykbaar aanvaarbaar, ook die absurde. Lees ek mos in die nuusmedia dat ons arme Transnet voortaan sal moet aansukkel met treine wat te hoog vir ons spoorlyne is.

Dis egter nie uniek nie. Frankryk het sopas ‘n soortgelyke stel afgetrap met hulle treine wat weer te groot vir die Italiaanse spoorwegtonnels is – en hulle het nie eers ‘n “Nkôndla” of Medupi waar alles eskaleer kan word nie.

Dan praat ek nie van ‘n regering wat blykbaar gereeld sy agterent aan hofuitsprake teen hom afvee nie, ongeag hoe ons agbare hoofregter dit ookal wil ontken.

In Suid-Afrika kan mens wonderlike drome droom. Soos dat alles sal regkom as JZ maar net van die toneel verdwyn.

Mense, dan sit ons egter steeds met pensioen en onderhoud vir die resultate van sy opgeblase libido.

Hoeka merk ek op dat die Koning van die Zoeloes ook bietjie spandabelrig geraak het.

Lyk my hy verkies om eerder 115km ten duurste te vlieg as om dit te ry.

Dan was daar in 2003 reeds 27 telge van hom. Wat die getal tans is, weet nugter, maar dit lyk darem of hy in 2005 briek aangedraai het.

G’n wonder die man sukkel so om met sy regeringstoelae uit te kom nie.

Het die jaar se voorraad blykbaar reeds in April klaar spandeer.

Gelukkig het hy net ses vrouens wat ons moet onderhou, anders as arme Swaziland wat vir 15 vir hulle koning moet betaal.

Die DA het die wonderlike asperasie om met die 2016 munisipale verkiesing die ANC ‘n snotklap op plaaslike vlak te gee en dit in 2019 op nasionale vlak op te volg.

Soos my Amerikaanse kleinseun sal sê: “Bring it on, sooner rather than later”. My bekommernis egter is dat die verval in regeringsbestuur teen daardie tyd so ver gevorder sal wees dat dit onomkeerbaar gaan bly.

Met die dat die regering nou die regbank teiken, is die gevaar wesenlik dat selfs ‘n neerlaag by die stembus nie die ANC van hul magsposisie en plek op die soustrein sal laat afsien nie.

Dit is iets waarvoor elke kieser se broek behoorlik aan die bewe behoort te gaan.

Nader tuis staan ek verstom oor van ons plaaslike nasionale winkels se omgaan met pryse.

As dieselfde stapel langlewe melk van een nie van Sondagaand na Maandagoggend met R18 vir ses liter styg nie, dan vra ‘n ander een R333 vir ‘n kilogram biltong of word die prys van ‘n bottel wyn oornag met R20 by ‘n derde een verhoog.

Ek kan nie glo dat ‘n supermark doelbewus ‘n verlies sal maak deur R9.83 per liter langlewe melk te vra, om dit dan op te maak deur teen middernag die prys met presies R3 per einste liter te verhoog nie.

Hierdie siklus word gereeld herhaal, sodat ek nou reeds genoeg melk het tot ongeveer Januarie volgende jaar.

Dis amper soos aandele koop. Jy koop op die laagtepunt en hou dan wat jy het. ‘n Week gelede egter het ‘n melkboer buite Jeffreysbaai wat 350 koeie melk, my vertel dat hy R4.58 per liter kry voordat ‘n enkele sent van sy eie onkoste afgetrek is.

Hy het nou kennis gekry dat sy verskaffingsprys met 50c per liter verlaag gaan word.

Wat Suid Afrika so wonderlik maak, is dat jy nie die produsent aan die beginpunt of die verskaffer op die eindpunt van die verskaffingslyn moet wees nie, maar iewers tussenin as middelman om die GROOT geld te maak.

Met die brandstofprys wat so gereeld soos my bloeddruk wissel wanneer ‘n nuwe burgermeester weereens van buite op Mogalakwena Munisipaliteit se mense afforseer word, het ek nogal simpatie met ons vulstasie eienaars.

Hulle weet nooit of die tenkwa petrol wat sopas in hul ondergrondse tenks getap is, teen ‘n verlaagde of verhoogde prys verkoop moet word nie.

Dis genoeg om enige sakeman nagmerries te gee. Van burgermeester gepraat – enige raaiskote oor hoe lank dit gaan neem voordat ‘n nuwe motor vir hom gekoop gaan word?

Kom ons vergeet egter van die politiek en ekonomie. Wat vir my die wonderlikste is, is die uithouvermoë van ons ou volkie.

Never mind hoe swak Bafana Bafana of die Springbokke speel, ons bly glo en hoop vir beter dae. Solank braaivleis ons nasionale sport is, kan Eskom maar sy ketels tot vervelens toe blus.

Ons sal wel geëet en gewas kom solank daar nog ‘n kooltjie onder die rooster gloei. Wat egter kan lol, is wanneer jou tandarts halfpad met ‘n wortelkanaalbehandeling is en die krag gaan af.

Dit laat my dink aan die tandarts wat ‘n onfeilbare raat gehad het met pasiënte wat aljimmers afslag wou hê. Sy antwoord was altyd: “Nou maar goed, ek kan jou die koste van doodspuit spaar. Kom sit op my gasstofie met ‘n mond vol water en wanneer die water in jou mond kook, sal jy niks voel wanneer ek aan jou tande werk nie – ek belowe”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button