Bosveld NewsNews

Maak die regte beroepskeuse vir jou toekomstige sukses

SIT jy met jou hande in jou hare en wonder wat jy na skool moet gaan studeer of oorweeg jy dalk 'n beroep, maar is nie seker of dit die regte keuse is nie?

MOKOPANE – SIT jy met jou hande in jou hare en wonder wat jy na skool moet gaan studeer of oorweeg jy dalk ‘n beroep, maar is nie seker of dit die regte keuse is nie?

Bosveld gaan vir die volgende paar weke met mense in verskillende beroepe gesels om vir ons lesers meer insig te bied oor verskillende loopbaanopsies, veral met die oog op matriekleerders wat na skool die grootmenswêreld moet betree.

Reaksie-offisier – Martin van Eck van SOS

Bespeur jy vinnig agterdog en het jy ‘n passie om misdaad te beveg, indien wel is jy dalk die ideale reaksie-offisier. Martin van Eck, ‘n senior reaksie-offisier bestuurder by Special Operations Solutions (SOS), vertel aan Bosveld dat dit ‘n aksiebelaaide beroep is en dat jy oor baie waagmoed moet beskik.

Van Eck was vroeër jare in die weermag en is al 31 jaar in die bedryf, waarvan hy al vir vier jaar lid is van SOS. “Elke dag is ‘n nuwe avontuur en as ‘n reaksie-offisier, bekamp en voorkom jy misdaad. Jy verskaf hulp as spoorsnyers by misdaadtonele, ondersoek word ingestel op tonele van inbraak tot dwelmhandel, sekuriteit word gedurende optogte gebied, jy verleen hulp by die bekamping van renosterstropery en jy is dag en nag op roep.”

Van Eck vertel dat hy ‘n absolute passie vir sy werk het en dat dit ‘n uiterse beveredigende loopbaan is, “want jy sien die positiewe verskil wat jy maak elke keer wanneer ‘n krimineel gearresteer word”.

Om ‘n beroep as reaksie-offisier te beoefen is gr. 12 van uiterse belang en jy kan vir opleiding gaan by Fidelity Security waar jy jou E-, D-, C-, B- en A-graad behaal, dit kan binne ‘n jaar bereik word sê Van Eck.

Volgens Van Eck moet jy oor goeie mensekennis beskik, jou intuïsie kan vertrou, ferm wees en bereid wees om jou lewe in gevaar te stel. “Die mensdom is geneig om neer te kyk op reaksie-offisiere, maar was dit nie vir dié beroep nie, was ons misdaadsyfer nóg hoër. Ons werk nie die normale 08:00 tot 17:00 werksure nie, ons werk 12-uur skofte om die gemeenskap se veiligheid te ten alle tye te verseker,” vertel van Eck.

Daar is groot aanvraag vir reaksie-offisiere landswyd en as jy oor durf en daad beskik, is dit die beroep vir jou.

Joernalistiek – Charmaine Lourens, redakteur van Bosveld Review

Die pas is vining en ‘n mens moet nie net weet wat in die gemeenskap gebeur nie, maar ook byhou met al die nuutste verwikkelinge in die sosiale media. Jy moet weet watter nuus landswyd die nuusblaaie haal en dit ook plaaslik na die gemeenskap op die dorp deurtrek soos Varkgriep wat nou weer op die voorgrond is.

Om in die redakteurstoel van ‘n gemeenskapskoerant te sit is allesbehalwe “glitz en glamour”, sê Charmaine Lourens, Bosveld sê redakteur. “‘n Mens moet oopkop dink, daarvan hou om daagliks met alle soorte mense van alle ouderdomme te werk en is dikwels tot laatnag nog aan die gang. In jou agterkop weet jy ook in ‘n plattelandse gemeenskap soos Mokopane het die koerant ‘n opvoedingstaak.”

Koerantjoernalistiek is slegs een been van ‘n ellelange lys van beroepskeuses wat ‘n mens het as jy in die mediabedryf wil werk. Daar is ook onder meer tydskrifjoernalistiek, televisie- en radiowerk en deesdae verskeie joernalistieke moontlikhede op die internet.

In gemeenskapsjoernalistiek is daar die goeie stories wat jou tone laat krul van lekkerte soos ‘n atleet of skool wat presteer, maar daar is ongelukkig ook die ander kant soos die onlangse selfmoord-tragedie hier in die dorp. Dit is die minder-lekker deel van skryf, maar ook plig, want dit is nuus wat die gemeenskap raak. “Dit is dan wat ek en joernalis, Jolandi Fourie, besef hoeveel inwoners ‘n wanpersepsie het oor hoe die media werk en ‘n mens maklik uitgekryt kan word as sensasiesoekers. Inderwaarheid hou ‘n gemeenskapskoerant die dorp se mense ingelig en op hul tone. Daar is altyd die soet en die suur.”

As jy in die mediabedryf wil werk moet jy jouself afvra: “hou jy van die Engelse en Afrikaanse taal en hou jy daarvan om te skryf? Geniet jy dit om met alle soorte mense te werk en lees jy graag oor wat in die land en in jou gemeenskap aangaan? Is jy lief om ondersoekend te dink, vrae te vra en nie bang om op die voorgrond te wees waar die nuus gebeur nie?”

Charmaine sê soos in enige beroep is daar ook nadele soos lang ure, aandfunksies wat jy moet bywoon en naweekwerk, veral langs die sportvelde. “Hier by Bosveld doen ons moeite om daardie ekstra myl na-ure te loop, veral waar ons goeie verhoudings met skole en organisasies het. ‘n Deel van jou werk is om goeie kontakte op te bou, want dit is dikwels hoe jy van interessante stories te hore kom.”

Sy meen ‘n goeie joernalis gom hulself nie vas aan ‘n stoel nie, maar is daar waar die nuus gebeur. Jy weet nie altyd wat jou dag gaan inhou nie, want nuus verander klokslag en baie keer moet jy als voor jou los en onverwags in jou motor spring en na ‘n ongelukstoneel uitjaag.

Een van die lekkertes van gemeenskapsjoernalistiek is om self foto’s te neem. Dis hier waar jou kreatiewe kant floreer. Dit is glad nie maklik om sportfoto’s te neem nie. Met hokkie, rugby of atletiek is daar heeltyd vinnige beweging en jy moet jou kamera ken om goeie aksie-foto’s te neem in ‘n oogwink.

Joernalistiek vereis dat ‘n mens onder druk werk en spertye moet nakom, veral wanneer die koerant moet sak. Teen die tyd dat die koerant drukpers toe gaan, het dit deur vele hande en verskeie prosesse gegaan wat insluit bladuitleg, proeflees en skommel en verander van stories. Dit verg spanwerk van hier tot by ons hoofkantoor in Polokwane voordat Bosveld uiteindelik Donderdagmiddae op straat is.

Om ‘n joernalis te word kan ‘n mens na matriek een van die vele graad- en diplomakursusse in die mediabedryf gaan studeer by die verskeie universiteite. Na jou studies begin jy as ‘n junior joernalis waar jy saam die meer gesoute joernaliste werk en ondervinding opdoen. By dagblaaie is die pas vinnig en die druk erg, want nuus wat vandag gebeur moet more in die koerant wees.

By groot nuuskantore word die nuus opgedeel in verskillende “beats”, soos misdaad, howe, staatsdepartemente, onderwys en skole, universiteite. Daar is ook die kuns-, sport- en finansiëleredaksiespanne. Daarby het elke koerant sy eie taal- en skryfstyl wat jy vining moet aanleer. Om ‘n “scoop” te kry bly opwindend. Dit beteken jy het ‘n goeie storie wat jou opposisie koerante nie het nie.

Charmaine vertel sy was bevoorreg om in ‘n opwindende tyd haar loopbaan in koerantjoernalistiek te begin. “Dit was die onstuimige tagtigerjare met bomaanvalle, onluste en betogings. Met bomaanvalle het die adrenalien behoorlik gepomp en as joernalis wil jy op die toneel kom nog voor die polisie dit begin afkordon. Ek was by vele moordtonele en as hooggeregshofverslaggewer het ek myself opgewerk tot senior spesialeverslaggewer in regs- en hofsake wat onder meer berig het oor die Wit Wolf (Barend Strydom), die Sharpeville Ses en die berugte UDF-verhoor.

“‘n Mens leef jouself in met die getuienis wat in die hof ontvou en emosies loop hoog wanneer die hof verdaag. Jy moet die hofprosedures en terme ken, weet waaroor jy kan berig en waaroor nie en kontakte opbou met die advokate, prokureurs, regtersklerke en ondersoekbeamptes. Dit het ‘n mens hoendervleis gegee wanneer ‘n regter iemand aan die einde van ‘n moordverhoor galg toe stuur,” sê Charmaine.

Daar is ook die sagter kant van joernalistiek wanneer jy byvoorbeeld stories vir mensebelang oor beroemdes en bekendes doen. ‘n Hoogtepunt was om die reisbylae te kon doen by ‘n groot dagblad en ‘n reis na die Suidpool was een van die baie mooi herinneringe.

‘n Beroep in die media gee haar geleentheid om bekendes te ontmoet en so het haar pad gekruis met politici soos F.W. de Klerk, Pik Botha, Van Zyl Slabbert en Jacob Zuma. Op die sportfront het sy onderhoude gevoer met onder meer die krieketheld, Graham Smith, die swemster, Ryk Neethling en die rugbyhelde, Joost van der Westhuizen en Naas Botha. ‘n Joernalis moet dus wyd lees en hul huiswerk deeglik doen voordat hul gaan skouer skuur met die hardebaarde en helde van ons land. Hierdie mense se programme is vol en jy kan nie sit en ‘oe’ en ‘aa’ nie.

Sy het ook vir ‘n jaar vir die berugte Guptas in Midrand gewerk om die ander kant van die politieke muntstuk te leer ken. Hier het sy baie goed gesien wat haar oë oopgemaak het en het sy kans gekry om politici aan die ‘linkerkant’ van die politieke arena te ontmoet. Hoogtepunte was haar onderhoude met Sepp Blatter, president van Fifa tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi, en die bekende internasionaal-bekroonde skrywer, Nadine Gordimer. Charmaine sê ‘n beroep in die koerantbedryf maak dat ‘n mens meer ervaar en beleef in jou daaglikse handel en wandel as in baie ander beroepe.

Dit maak ook dat jy nie bang is om in situasies en op plekke te wees waar ander dit miskien nie sal waag nie. “Na meer as twintig jaar in koerantjoernalistiek leer ek elke dag steeds en kan ek ook die kennis en wyshede wat ek in my lewensreis versamel, terugploeg.”

Joernalistiek is ‘n goeie loopbaan-opsie vir diegene wat ‘n passie het vir nuus, mense en die geskrewe woord.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button