Hy kén van dames optooi
Marius Kilian het die gemeenskap behoorlik aan die gons gehad oor die nuwe manlike haarstilis wat saam met Hannon Bothma van Glam Guru gewerk het toe hy besluit het om die stadslewe vir húlle dorpie te verruil.
LOUIS TRICHARDT – Marius Kilian het die gemeenskap behoorlik aan die gons gehad oor die nuwe manlike haarstilis wat saam met Hannon Bothma van Glam Guru gewerk het toe hy besluit het om die stadslewe vir húlle dorpie te verruil.
Marius het uit Johannesburg verhuis in Oktober laasjaar om by sy geliefde te wees in Louis Trichardt. Hy het vinnig besef dat daar ‘n groot aanvraag is vir sy beroep. Marius het Lé Masy Boutique Salon oopgemaak op 5 Junie 2015.
“Haarsny alleen is nie vir my genoeg nie, ek doen kleur-analise, klerekas-opknap en grimering. Ek voel dit loop alles hand-aan-hand. Dit gaan oor meer as net hare, ‘n vrou moet mooi voel in alle aspekte – van onderklere, klere en grimering tot hare,” glimlag Marius.
Marius het ‘n drie-en-‘n half-jaar ‘Hair and body factor’ kursus afgelê by die Johannesburg Kollege waarna hy in Londen, Brittanje, vir nege jaar by die Tony and Guy-instituut studeer het. Marius het vroeg al besef hy het ‘n aanvoeling vir hare en hoe om dames goed oor hulself te laat voel.
“Ek was in gr. 5 en my ma het altyd haar hare getease om oop gaatjies toe te maak. Sy het my altyd gevra om dit vir haar te doen. Dis daar waar my liefde vir hare begin het, en die liefde het met tyd aanhou groei,” verduidelik hy.
Review het met Marius gaan gesels om meer uit te vind oor sy loopbaan in die skoonheidsbedryf en die feit dat hy die gemeenskap so lekker verras het.
“Ja, ek het saam Hannon gewerk toe ek hare by die Lééf tydskrif gedoen het. Ek het ook saam ander bekende mense gewerk. Ek het hare gedoen vir die Beeld koerant, ek het ook onder andere Rina Hugo en Annelie van Rooyen se hare gedoen,” glimlag Marius.
“Ek is bevoorreg om hier in Louis Trichardt by Ouma Lettie Mostert se perseel te werk. Ouma Lettie is welbekend in Louis Trichardt nadat sy vir 40 jaar hier skool gegee het.”
Sy personeel bestaan ook uit ‘n lappieskombers vol talentvolle en vriendelike mense.
Salome Nefolovhode het vir 25 jaar vir Salon André in Louis Trichardt gewerk. Toe André Botha afgetree het na 70 jaar se hare-sny, het Salome by Marius se salon aangesluit. Francina Ngoepe behartig die salon se teetuin. Die teetuin is slegs vir kliënte en is lieflik opgemaak in die salon se tuin met pragornamente.
“Baie dankie vir my vriendelike personeel vir hulle samewerking en baie dankie vir my kliënte wat my met die openingsdag en ook die laaste maand ondersteun het. Die opkoms en ondersteuning is awesome,” sluit Marius af.



