Vrouetee teen die groot ‘K’
Buiten die lekker saam kuier van borskankervegters, was die Kansa tee vir vroue van die stad op Saterdag, 18 Julie 'n dag vol mening.
POLOKWANE – Buiten die lekker saam kuier van borskankervegters, was die Kansa tee vir vroue van die stad op Saterdag, 18 Julie ‘n dag vol mening. 18 vegters het by Mike’s Kitchen in die stad bymekaar gekom om ‘n dag saam met mense te spandeer wat verstaan waardeur hulle gaan. Die tee is gereël deur Louise Jansen, ‘n kankervegter wat self die stryd teen kanker gewen het. Louise vertel dat sy die tee hou vir vegters om bietjie te kan ontspan en om tyd saam met mense te spandeer wat weet waardeur hulle gaan.
“Dis belangrik dat daar ‘n ondersteuningsraamwerk is wanneer jy met kanker gediagnoseer word. Hierdie tee help baie vroue om te besef dat hulle nie alleen in die stryd is nie,” vertel Louise.
Tydens die tee het Louise ook die vroue toegespreek oor haar eie geveg en oor haar toekomsplanne om die dokter wat haar gehelp het om die stryd te wen saam te bring vir ‘n praatjie oor die geveg teen kanker. Die vroue het ook elkeen die kans gehad om hulle stories te deel.
Die vroue vertel dat die tee hulle die kans gee om by mekaar te leer en om ander mense raad te kan gee wanneer hulle in ‘n posisie is waar hulle self nie weet wat om verder te doen in die stryd nie.
“Die tee is soveel meer as net ‘n kuier tussen mense wat saam met ons ‘n siekte deel. Dit is die kos en brandstof waarsonder baie van ons nie kan klaarkom nie. Dit bou mens op in maniere wat woorde nie kan beskryf nie, om net dankie te sê is nie genoeg om te beskryf hoeveel hierdie tee vir ons beteken nie,” sê Angie Rakumako, een van die vroue wat die tee bygewoon het.






