Buster die Brak kom kuier hier vir ‘n kinderavontuur
MAAK gereed vir 'n ware Buster-avontuur saam met Buster die Brak, sy nuwe juffrou en maats.
MOKOPANE- MAAK gereed vir ‘n ware Buster-avontuur saam met Buster die Brak, sy nuwe juffrou en maats.
Buster leer allerhande interessante dinge en ontdek saam met sy maatjies elkeen se spesiale genade gawe. Want almal het ‘n gawe en elkeen is perfek net soos jy is!
Juffrou Hanna is niemand anders as aktrise, Hanna Grobler (Bok van Blerk se vrou) nie, en sy wys vir die eerste keer dat sy ook ‘n ongelooflike sangtalent het wanneer sy en Buster gestalte gee aan oorspronklike liedjies uit die pen van Johan Vorster.
Met liedjietitels soos “Moenie bang wees nie,” “Almal het ‘n gawe” en “Sê vir my hoe werk dit, meneer” word die jongspan aangemoedig om saam met Buster en sy maats hul eie unieke gawes te ontdek.
Jong ouers kan nie vra vir ‘n prettiger manier vir hul kinders om te besef almal het ‘n gawe nie.
Maar die lesse wat al singend en dansend oorgedra word, strek verder as dit. Kinders leer ook meer oor Bybelstories soos Joshua en die wapenrusting wat ons nodig het vir elke dag se uitdagings, asook oor belangrike veiligheidsreëls en daar word selfs op die plaas besoek afgelê.
Te veel hoor ‘n mens by jong ouers dat ouerskap bietjie meer vereis as wat hul gedink het of dat hul nie altyd die tyd het om gehaltetyd saam met hul oogappels te spandeer nie.
Buster die Brak maak dit effe makliker en sal ouers laat besef dat dit eintlik nie so moeilik is nie. Om die waarheid te sê, dit behoort ‘n heerlike avontuur te wees wat deur ouer en kind aangepak word.
Kom ontmoet Hanna en Buster die Brak Saterdag op die feesterrein en bring die kleinspan na die kinderarea om die verskeidenheid van aktiwiteite soos die springkastele en klim-en-kloutertoerusting te kom geniet.




