Gretha inspireer
Eerlikheid en vergifnis is kern vir 'n vrou om vordering in die lewe te kan maak.
POLOKWANE – Eerlikheid en vergifnis is kern vir ‘n vrou om vordering in die lewe te kan maak.
Dít was deel van die boodskap van die bekende motiveringspreker Gretha Wiid wie die gasspreker was tydens ‘n damesaand van die Mev. Polokwane organisasie op Woensdag, 5 Augustus. Die funksie is by Bolivia Lodge aangebied en moes op die nippertjie na ‘n groter saal skuif nadat amper 300 kaartjies vir die geleentheid verkoop is.
Loudine Redelinghuys, Mev. Polokwane 2015, sê die aand was ‘n reuse-sukses en dat die vroue Wiid se praatjie baie geniet het.
“Gretha is reguit en bekend vir haar tong-in-die-kies manier van gesels. Sy draai nie doekies om nie, sonder om ooit haar hart vir mense en God se woord prys te gee,” vertel Loudine.
“Sy het van die begin tot die einde ons laat skater van die lag. Sy is ‘n baie plat-op-die-aarde mens, ‘n mense-mens, en sê dinge soos dit is en laat jou terselfdertyd voel soos ‘n vriendin.”
Wiid het onder meer oor die verskille tussen mans en vroue gepraat en gesê vroue neig soms om situasies en gebeure te kompliseer. Sy het dit beklemtoon dat elke vrou spesiaal is en dat haar lewe betekenis het al dink baie vroue hulle is niks werd nie.
“Sy het ook genoem dat ons nie oppervlakkig na ons lewens of in ons besittings moet vaskyk nie, maar eerder na lewenservarings en spesiale oomblikke. In pleks daarvan om na jouself in die spieël te kyk en te dink: ‘sjoe, maar ek het oud geword’, moet ons eerder dink ‘sjoe, maar dié oë en wange het al baie gelag’.”
Voorts het Gretha die vroue aangeraai “om op te hou om alles te probeer na-aap op Pinterest of hulself te vergelyk met ander vroue se lewens, maar eerder elke sekonde van hul eie lewens te geniet en dankbaar te wees”.
Vroue moet ware vriendskappe waardeer, meer Bybel lees en gehaltetyd saam met God spandeer. Om eerlik te wees en mense te vergewe is belangrik want sonder vergifnis sal vroue nie self kan voorentoe beweeg nie,” het sy bygevoeg.
“Ek dink Gretha is ‘n vrou met baie insig en wysheid, en is ‘n inspirasie en rolmodel vir baie,” vertel Loudine.
Die tema vir die aand was “‘n Brandstofinspuiting vir die vrouehart” om as rigtingwyser te dien hoe elke vrou aan die einde van die aand huis toe behoort te gaan met nuwe lus vir die lewe.
“Ek wil dankie sê aan almal wie ons ondersteun en die aand saam met ons geniet het, en ook vir al die boeke wat geskenk is. Ek wil ook die Mev. Polokwane-komitee bedank dat hulle my gehelp het met van die reelings, asook dr. Gerda Willemse wie gehelp het met die kaartjieverkope. Ons borge wat die aand moontlik gemaak het sluit in Bolivia Lodge, Boss Personnel, Far North Plastics, Waterberg Water, Veggiepack (Pty) Ltd, en Review. Jaco en Dehanne Minnaar het gaste met liedjies vermaak. Ek het dit baie geniet om die funksie te reël en is dankbaar dat ons kon geld insamel om te help met die gemeenskapsprojekte wat ons wil aanpak.”




