Local NewsNews

Gebou om rolmodel te wees

'n Passie vir die sport en 'n dieet van onder meer baie vleis, rys, aartappels en groente is deel van 'n plaaslike liggaamsboukampioen se wenresep.

POLOKWANE – ‘n Passie vir die sport en ‘n dieet van onder meer baie vleis, rys, aartappels en groente is deel van ‘n plaaslike liggaamsboukampioen se wenresep.

Cianda Nel (35) oefen reeds die afgelope 10 jaar as liggaamsbouer, maar het eers verlede jaar besluit om deel te neem aan die “Miss SA Xtreme” kompetisie waar sy as die wenner in haar kategorie gekroon is. Sy het vanjaar weer deelgeneem in die kategorie vir fiksheid (langer as 168) en het weer as wenner uit die stryd getree.

Review het haar in die gimnasium besoek en met haar gesels kort na haar oefensessie vir die dag.

“Wanneer ek voorberei vir ‘n kompetisie oefen ek vier ure op ‘n dag. Drie daarvan is kardio- en een uur is vir gewigoefening. Ek oefen saam met my man, Basil. Hy is ‘n persoonlike instrukteur.”

Cianda het in 2014 aan die Arnold Classic in Spanje gaan deelneem en 14de geëindig. Sy het ook aan die Amateur Olympia Africa deelgeneem wat sy gewen het.

Sy vertel dat sy Maandag tot Vrydag oefen en naweke rus. Haar dieet bevat baie hoender, vis, fillet, rys, aartappels, patats en broccoli, groenbone en gemengde groente. “Die laaste week voor ‘n kompetisie sny ek alle sout uit – dit is seker ook die moeilikste deel van alles. Of die slegste.”

Cianda, ‘n ma en huisvrou, doen ook voorbereidingswerk saam met haar man wanneer hulle ander liggaamsbouers reg oor die land help slyp voor kompetisies.

“Om bo uit te kom, moet die sport jou passie wees. Dit is nie altyd maklik nie. Wanneer ek nie voorberei vir ‘n kompetisie nie, oefen ek net ‘n uur op ‘n dag. As jy begin het, moet jy deurdruk. ‘n Belangrike ding is om konsekwent te wees in alles wat jy aanpak. Die lekkerste van alles is om vir iemand ‘n rolmodel te wees – om ander te inspireer.”

Cianda het ook onlangs aan die H&H Classic in Pretoria deelgeneem. Volgende jaar wil sy aan die Arnold Classic in Sandton gaan deelneem waar sy internasionale liggaamsbouer en supersterakteur, Arnold Schwarzenegger, sal ontmoet.

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button