HPP se kokke wil teenstand uitklits
Jana Lené van Eck en Gaby Nel is die ywerige gr. 11-sjefs aan die oefen voordat hulle Donderdag by die Prue Leigh Sjef-akademie in Centurion teen 14 ander spanne in die finaal van die landwye Pick 'n Pay Skolesjefkompetisie sal deelneem.
MOKOPANE – In die kook- en baksentrum van Hoërskool Piet Potgieter word flinkbestanddele afgemeet terwyl die twee pienk kolwyntjie-tydhouers fyn dopgehou word.
Jana Lené van Eck en Gaby Nel is die ywerige gr. 11-sjefs aan die oefen voordat hulle Donderdag by die Prue Leigh Sjef-akademie in Centurion teen 14 ander spanne in die finaal van die landwye Pick ‘n Pay Skolesjefkompetisie sal deelneem.
Jana Lené en Gaby het vanjaar hul spyskaart en kosteberekening ingestuur en was aangenaam verras toe hulle hoor hulle is in die finaal.
Nicolene Venter en Lorinda dos Santos, gasvryheidsonderwysers, is vanmiddag byderhand om raad te gee en te kyk dat die oefensessie flatervry afloop.
Nicolene vertel dis die eerste keer dat die skool deelneem en in die finaal is waar groot pryse op die spel is.
Die tema A celebration: High Tea for Three behels dat ‘n koek, soettert, twee lekkernye en soutfyngebak gemaak moet word. Sekere produkte moet deel van die feestelikheid wees en alles moet binne vier ure prentjiemooi gereed staan vir die beoordelaars om te sien, te proe en punte te gee.
Die twee jong kokke vertel die kompetisie is ‘n uitdaging en dat dit lekker is as jy sien dat dit wat jy gedoen het reg uitkom. Hulle wis die beoordelaars se smaakkliere sal behoorlik geprikkel moet word om die ander sjefs te kan troef.
Gasvryheid is ‘n kreatiewe vak en tussendeur hulle ander leervakke bied dit die kans om te eksperimenteer.
Hulle werk vinning en deeglik om die botter en meel te meng vir die milk stout sjokolade- en botterkaramelkoek wat uit ‘n paar lae bestaan. Dan kom die rooibosteekoek aan die beurt. Die sjokolade grondboontjiebotter-truffels, brandewyn snaps en soutfyngebak waarvan die skilferkors deeg self gemaak word, moet keurig lyk én verruklik smaak.
Die pryse is nie te versmaai nie. Daar wag sowat R53 000 se pryse vir elkeen van die wensjefs waaronder ‘n R30 000-beurs om by die gesogte Prue Leigh Akademie opleiding te kry.
Die wenskool stap ook met ‘n R10 000 geskenkbewys van Pick n Pay weg wat Piet Pot handig te pas kan kom. Bosveld hou styf duim vas.




