Vanjaar is die matrikulante aan die CVO-skool Potgietersrus bederf met ‘n afskeid wat hulle oor die water na die romantiese hoofstad van Frankryk weggevoer het. “ ‘n Dag in Parys” was die tema van die skool se matriekafskeidgeselligheid Dinsdagaand en die matrieks het geesdriftig vir die Franse reis uitgedos.
MOKOPANE – Bienvenue @ Paris – Welkom in Parys, was die tema Dinsdagaand van die CVO-skool Potgietersrus se swierige matriekafskeid.
Die gr. 12-leerders wat met van ‘n trekker tot ‘n Mustang opgedaag het, het die toeskouers se asems behoorlik weggeslaan terwyl hulle met hulle praguitrustings oor die rooi tapyt na die romantiese stad ‘Parys’ gestap het.
JJ Lourens en Elzaan van der Merwe het soos ‘n bekende glanspaar op die rooitapyt gelyk.
Ida Human (hoofmeisie) en Tommy Becker het reeds met hul aankoms op ‘n bloedrooi trekker die gehoor na hul asems laat snak.
Inge Kruger en Armand de Vos het in ‘n lang slap klassieke kar gearriveer en harte gesteel.
Die gebrul van die Ford Mustang waarmee Marni van den Heever en Franco de Klerk gearriveer het, het dadelik aandag getrek, maar hul uitrustings het finaal die kollig gesteel.
Jan-Hendrink Putter (hoofseun) en Lerize Lensley het net weereens bewys dat daar verseker waarheid in die bekende slagspreuk, “hoe rooier hoe mooier” steek.
Danie de Beer was gemaklik, maar stylvol geklee en met Gerda Goosen, ‘n visie in blou, aan sy arm was hulle een van vele glanspaartjies by die CVO-skool Potgietersrus se deftige matriekafskeid.