‘Verhoudings ly onder sosiale media’ – plaaslike sielkundige
Review het met 'n plaaslike sielkundige, Zelda Buitendag, gaan gesels oor die invloed wat sosiale media op verhoudings het...
POLOKWANE – Sosiale media speel ‘n groot rol in elke persoon in die hedendaagse lewe.
Hetsy dit Facebook, Twitter of selfs net Whatsapp is, mense is gedurig besig om met ander mense sosiaal om te gaan. Review het met ‘n plaaslike sielkundige, Zelda Buitendag, gaan gesels oor die invloed wat sosiale media op verhoudings het.
Buitendag sien dikwels egpare wie se huweliksbootjies wankel, en vertel dat in meeste gevalle, sodra die sosialemediaverbruik verminder word, die verhouding verbeter.
“Daar is ‘n toename in verhoudingsprobleme waar sosiale media betrokke is. Persone binne die verhouding ontwikkel ‘n nou emosionele band met ‘n vriend of vriendin en deel later al hoe meer intieme inligting wat dan gevare inhou vir die persoonlike verhouding of huwelik omdat daar ‘n skuif plaasvind in lojaliteit tesame met verswakte kommunikasie.”
Daar is ‘n ou Sjinese vloek wat lees: Mag jy in interessante tye leef. Alhoewel dit nie na ‘n vloek lyk nie, bring die woorde interessante tye, drama en onsekerheid. Sosiale media is altyd interessant, verander gedurig, hou jou besig en altyd groeiende.
Mense weet nie meer hoe om met mekaar te gesels nie, aangesien hulle gewoond geraak het aan e-pos, SMS en Whatsapp. Sosiale media het soms verbreekte beloftes tot gevolg en die beïndiging van beloftes.
Mense raak jaloers oor die verhouding wat hul metgesel met mense op die foon of rekenaar het.
“In huweliksterapie bring ek reëls in, onder andere om die tyd wat gespandeer word op sosiale media te beperk na byvoorbeeld een uur ‘n dag. Dis deel van privaat tyd of tyd saam jou geliefdes en gesinstyd.
“Gewoonlik is daar dan dadelik ‘n verbetering in die verhouding. Dit word saam met ander reels geïmplimenteer,” vertel Buitendag.



