Droomspoel: Dan word ‘n droom werklikheid
BOSVELDPRAATJIES: Ek word wakker, so ongeveer agt-uur se koers en die Sondag lê blink voor my uit. Iewers beier 'n kerkklok sy 'kom-nader-kom-nou' metaalroep uit.
EK word wakker, so ongeveer agt-uur se koers en die Sondag lê blink voor my uit. Iewers beier ‘n kerkklok sy ‘kom-nader-kom-nou’ metaalroep uit. Dit is Sabbatstil in die huis langsaan, en onder die koorsbome. Ek sit op die bed, eet van gisteraand se KFC, drink ‘n Monster Zero, en gooi my gedagtes by die venster uit. Lugwaarts natuurlik, anders trap die verby-snorkende motors dit in skerwe.
Ek stuur dit doringbome toe, en uit die lug sien ek die littekens waar ek en my seun, Ryan ons ‘naam klippies’ begrawe het. Die dag voor ons die plaas verlaat het, het ons hier kom groet … ‘n totsiens wat seker nie weer ‘n hello sal word nie. Hier waar my oorlede pa kom bid het as die droogte, die magteloosheid en die skuldlas te veel geword het. Nou doen ek dit ook … net hierdie is ‘n rou, finale groet. ‘n Groet geruk uit ‘n verdwaasde hart, ‘n geskeurde siel en met ‘n verwarde toekoms. Ek stuur my gedagtes na die verlede, maar ek stap nie self terug op ou spore nie, wel nie sommer nie.
Ek ruk my gedagtes uit die doringbome, en slinger hulle oor die vlaktes waar die gras walsend blink branders maak. Ek verander my gedagtes na drome toe, laat my drome deur die lang gras spoel. Ek kam met gesperde vingers deur die stekel van die rooigras se saad, die koel gly van die soetgras. Ek sien die opkrul slaap van die kolhaas in die holtetjie van ‘n alleenstaan katbos, sien hoe sy yl weglê-snorretjie in die asem van die westewind bewe. Kan ‘n haas dink en droom, en waaraan sou hy dink en van droom?
So stuur ek my drome in die bloekombome in daar waar die veermensies woon … stap tussen die blare en takke, kyk na hulle gevlegde meentnessies, en ek raak nederig-dankbaar. So volmaak gebou, grassie vir grassie, en dit sonder gereedskap, sonder hande. Dit is vir my ondenkbaar dat daar steeds mense is wat aan Hom twyfel, of die skepping verwerp.
So kry ek Dronk Hans Hadida daar, stap ek en hy verder weg, hand aan vlerk. Die twee van ons praat nie veel nie, woorde kan soms oorbodig en irriterend wees. Ons stap verby Kierie en Betsie se wegsteek-nessie, maar die kiewietjies is nie daar nie.
Dalk het hulle die jongste een kuikenskool toe gevat, dalk is hulle by die familie, of net iewers. Die nessie is mooi skoon gevee en aan die lip van ‘n geknakte grassie hang ‘n vuilvaal donsie. In die yl windjie bewe dit ‘n welkom groet uit, en ek los ‘n droom-visite kaartjie daar en ons vlieg verder, moeg geloop.
Hoog-hoog tussen die stukkende vlieswolkies deur, verder en verder totdat ek die Zambezi soos ‘n gekreukelde lint onder my sien, gaan sit ek in ‘n hoë kremetartboom, so skuins langs ‘n visarend. Dié kyk my skerp met sy koue albasteroë aan, en knik sy skelmkoppie in erkenning. “Kow-kow?” weergalm sy groet tussen die bome en oor die blink, kabbelende water.
“How how?” My stem is sag, en dit dra net tot by sy onsigbare ore. Ek kan sweer hy het so vinnig, skeef geglimlag. Dan lem sy oë weer as dit verder prooisoek oor die veld. Op die sand lê ‘n hele klomp krokodille stil in die son en wag vir beter dae en sagter vleis. In die diep water oefen ‘n seekoei-orkes die skor klanke in geen wysie of verstaanbare akkoorde nie. Maar as jy die taal van die veld ken, dan sal jy verstaan. Dit is hulle lied, hulle dankbaarlied en hulle taal. Die taal van die veld, droomtaal, my taal, of as jy wil die leser van hierdie stuk, se taal.
Sonder om te groet, is maar soos ek soms is, sweef ek verder, alleen en stil. Droomspoel ek my gedagtes terug na sò lank, lank gelede. Na daardie dag toe ek na die lewelose lyf van die maanhaar gekyk het, toe die seerspyt suur in my binneste opgedam het, en ek dit saam met met die verwyt uitgebraak het. Ek het na Sanna (.375 ) gestaar, die geweerloop warm in my swetende hand, ek het dit oor my skouer gehang, en stil omgedraai … kan nou nog Joseph se sagte, vraende stem in my ore hoor weergalm. “Jy is qetile(klaar) Ratau ( leeuman)?”
Hy het geweet ek het genoeg gehad, genoeg gejag om my ‘n leeftyd te hou. Ek het die geweer opgehang, maar eers baie jare daarna het ek die pen opgetel. Die pen wat ek later verruil het vir die glansende rekenaar-klawerbord se towernote, woordnote, gister se pad se note. Vandag se woorde wat as dit gelees word, ook gister se woorde is.
Gaan sit ek op ‘n swaar, donker wolk, laat my bene in die eindeloosheid afhang, en sluit my brandende oë. Ek sien die motorwrak as hulle dit insleep, sien haar verkoolde liggaam in die lykshuis, sien die blink van my pa se kis, voel die gewig as die koper handvatsel in my regterhand sny. Ek raak aan die koel kiaat van Mamma se kis, hoor die kluite se klap as ek en Ouboet die eerste grawe vol afskeid daarop laat val.
Dink ek aan die eensaam leë jare, jare van stilte, maar ook jare van lag en plesier. Jare waarin vandag se stories gevorm word, stories van daardie tyd word nóú se stories. Droomspoel my vingers deur sagte lang hare, ruik ek die sagte reuk van ‘n vrou, proe ek die hartstog op my lippe, voel die koorsbrand van ‘n sagte vel teen my honger streel. Hoor ek my naam oor sagte lippe kabbel, voel ek lewe onder my hande. Dan word die droom ‘n werklikheid, net ‘n vergete werklikheid, en die alleenheid sak soos ‘n nat karos oor my gedagtes, en versmoor die mooi en die lag.
Ek keer terug na die hede, stap na buite, en raak aan die sagte skurwe vel van die Koorsboom. Ek stap na waar die Apiesdoring-droomboom rustig staan en wag. Met sy geliefde ‘monsterplant’styf teen hom vasgegroei, raak ek liggies aan hulle eersteling, die groen vrug, wat wiegend deur die fluisterwind aan die slaap gesus word.
Ek kyk na vreemde mense in vreemde motors, wat in onhoorbare taal gesels. Ek kyk na waar die laaste kerkgangers in hopies staan en praat … stap stadig terug huis toe. Toe gaan sit ek in my slaapkamer voor die lessenaar, en ek begin tweevinger aan nou se droom tik.
Ek sien hoe stadig die woorde vorm en die sinne wegvloei, dalk spoel dit later op jou rekenaar of selfoon se skerm uit. Proe daaraan as jy wil, doop jou vingers, en proe die smaak daarvan. Dalk smaak dit soet, dalk na trane, dalk na stukkende eensaamheid, of dalk na drome.
Dit moet na iéts proe, want dit is droomspoelwoorde … en as jy wil, maak dit jóú droom se woorde.



