Sy bekamp armoede vir ‘n lewe
Eulogia de Wet, Maatskaplike Werker van die Mokopane Noodforum, gesels oor al die uitdagings wat daagliks op haar pad geplaas word...
MOKOPANE – Na 11 jaar geniet sy dit steeds om die gemeenskap te dien en die talle behoeftige mense van die dorp te help, sê Eulogia de Wet, Maatskaplike Werker van die Mokopane Noodforum.
Eulogia gesels oor al die uitdagings wat daagliks op haar pad geplaas word en hoe sy elke oggend haar dag met ‘n positiewe gesindheid begin.
Eulogia wat haar graad in maatskaplike werk aan die Noordwes Universiteit behaal het, het eers vir sowat 16 jaar as dagmoeder gewerk voordat sy in 2005 aansoek gedoen het vir die pos as maatskaplike werker. Sy voel dat haar lewenservaring in daardie stadium van haar lewe, baie bydra tot die werk wat sy doen. Sy het in Desember 2005 by die Noodforum begin werk en sedertdien geniet sy elke oomblik.
Verlede jaar het die Noodforum sowat 1 895 behoeftiges op die dorp gehelp. “Hier is baie mense wat swaarkry. Die groentetuin wat ons begin het, werp goeie vrugte af. Vars groente word weekliks uitgedeel. Die boemelaars kan ook elke dag by die forum ‘n bord gekookte kos kom eet.”
Op ‘n vraag wat die moeilikste deel van haar werk is sê sy: “Die slegste deel is waar kinders van hul ouers verwyder moet word en in pleegsorg geplaas of na ‘n kinderhuis gestuur word. ‘n Mens probeer eers help en slegs as ‘n uiterste uitweg sal kinders in alternatiewe sorg geplaas word.
“Dit bly altyd hartseer en een van die moeilikste besluite.”
In 2011 het die forum begin met die uitreik van gemeenskapskaarte. Behoeftiges kan registreer by die forum waarna ‘n kaart aan hulle gegee word wat hulle kan toon wanneer hulle vir kos vra by ondernemings. Indien ‘n onderneming die persoon help, vul hy dit dan op die kaart in.
Danksy getroue donateurs word die nood verlig, maar die gemeenskap word gevra om ou klere en nie-bederfbare kos na die forum te bring. Winter is op hande en daar is baie mense wat nie warm klere of komberse het nie. Die forum het ook vrywilligers nodig om te help met die uitsorteer van skenkings.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




