Local NewsNews

Polisie begin taakspan om N1-misdade te ondersoek

Na verskeie sake van veral gewapende roof op die N1 tussen Musina en Pienaarsrivier wat by die polisie in Limpopo aangemeld is, is ‘n geïntegreerde taakspan wat uit speurders en lede van die misdaadintelligensie-eenheid bestaan, vroeër die week aangestel om dié misdrywe te ondersoek. Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die polisie is lank reeds bewus …

Na verskeie sake van veral gewapende roof op die N1 tussen Musina en Pienaarsrivier wat by die polisie in Limpopo aangemeld is, is ‘n geïntegreerde taakspan wat uit speurders en lede van die misdaadintelligensie-eenheid bestaan, vroeër die week aangestel om dié misdrywe te ondersoek.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die polisie is lank reeds bewus van voorvalle veral in die Kranskopomgewing waar motoriste deur rowers geteiken word. Polokwane Observer het verlede week berig oor vier verdagtes wat voorgegee het om rylopers te wees en dan motoriste beroof het sodra hulle ‘n saamrygeleentheid gekry het.
“Nie net motoriste word geteiken nie, maar ook busbestuurders en passasiers. Ons het reeds agt verdagtes gearresteer wat met ongeveer 20 voorvalle op die snelweg verbind kan word. Hulle sal later in die hof verskyn,” het Otto gesê.
Sy sê die polisie het reeds vergaderings met verskeie busmaatskappye gehou om hulle te maan om veiligheidsmaatreëls op te skerp. “Die taakspan is aangestel sodat alle soortgelyke sake na ‘n gesentraliseerde punt gestuur en deeglik ondersoek kan word. Ons vermoed daar is steeds verdagtes wat met die modus operandi voortgaan en nog arrestasies kan verwag word.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button