Local NewsNews

Sy was ‘n moeder vir almal

Sy was nie net 'n ma vir haar kinders nie, maar 'n ma vir almal om haar.

POLOKWANE -Dít is hoe familie, vriende en bure vir Elsie Hartlief-Harmse altyd sal onthou.

Elsie, een van die oudste inwoners in Westenburg, is in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal na ‘n kort siekbed op 24 Junie 2016 oorlede.

Die 88-jarige was ‘n steunpilaar in die gemeenskap en ‘n rolmodel vir jonk en oud.

“Ouma Elsie was ‘n vrou met inborste. Haar hart en huis se deur was altyd oop vir mense, maak nie saak wie nie.

“As jy raad nodig gehad het, was sy daar om jou te ondersteun en raad te gee. As jy honger was, het sy vir jou iets gegee om te eet en as sy niks anders in die huis gehad het om vir jou te gee behalwe haar eie bord kos nie, het sy dit met jou gedeel. Sy was ‘n liefdevolle vrou en sy was nooit te moeg om iemand te help nie.

“Sy was nie net ‘n moeder in die gemeenskap nie, maar sy was ook ‘n ouma, en ‘grootjie’ vir al die familiekinders, haar bure en ander in die gemeenskap,” vertel Alfrieda Hannam, ‘n buurvrou en familiekind.

Elsie se dogter, Sophie Hartlief, sê hulle gaan baie na haar verlang.

“Mamma se plekkie is leeg en ons mis haar so baie maar ons berus in die wete dat sy veilig by die Here is en nie meer pyn het nie. Sy sal vir altyd leef in ons harte en herinneringe,” sê Sophie.

Elsie se seun, Karel Hartlief, sê hy kan steeds nie glo dit het so gou aangebreek nie.

“My ma het soveel mense se lewens geraak en ons het dit nooit besef nie, tot die dag van haar begrafnis op 2 Julie. Mense van al die uithoeke van Suid-Afrika het gekom om eer aan my ma te toon. Ek wil vir almal dankie sê wat van heinde en verre gekom het om ons te ondersteun in hierdie hartseer tyd. Dankie vir almal se bemoedigende woorde, handdrukke, SMSe en oproepe, dit was ‘n groot troos vir die familie. Ons sê graag dankie aan dr. De Lange by Redimed24 wie my ma behandel het voor sy na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal verwys is. Dankie aan die dokters en verpleegsters by die hospitaal wat na my ma omgesien het in die kort tydjie wat sy daar was,” sê Hartlief.

Hy bedank ook Lebowa Funerals vir die goeie diens wat hulle gelewer het met die begrafnis, en die kerkraad van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suider Afrika (VGK) Westenburg wat die kerk tot hulle beskikking gestel het om sy ma daaruit te begrawe.

Elsie laat haar kinders, kleinkinders, en agterkleinkinders na.

cheryllee@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button