Lions en SAFV help bejaardes om weer te sien
Die Pietersburg Lions het besluit om die bejaarde inwoners van Martha Hofmeyer Tehuis 'n oogtoets te laat ondergaan en daarby twee stelle brille aan elkeen geskenk.
POLOKWANE – Die Lions se Operation Brightsight verskaf brille aan minderbevoorregte mense in Suid-Afrika asook buurlande met die hulp van ander Lions klubs. Sedert hul ontstaan in 1978 het hulle reeds duisende brille regoor die land aan minderbevoorregte mense geskenk.
“By die Martha Hofmeyer Tehuis het ons twee stelle brille aan vyf minderbevoorregte mense geskenk as deel van ons veldtog om uit te reik na die gemeenskap,” vertel Karl Varkevisser van Pietersburg Lions.
Dawie Lee, bestuurder by die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) waaronder Martha Hofmeyer Tehuis se sorg meestal val, vertel dat die inwoners dankbaar is vir die brille aangesien dit ‘n noodsaaklike, maar duur item is.
“Baie dankie vir die skenking, nou kan die mense weer die lewe deur nuwe oë aanskou.
“Dankie dat julle aan ons gedink het met julle uitreikprogram,” sê Dawie.



