Tuinliefhebbers kry ‘n vinnige les in tuinbou
Tuinbouliefhebbers in die stad het op Maandag, 22 Augustus die geleentheid gehad om weer na bekende tuinboukundige en tv-persoonlikheid, Tanya Visser, te luister waar sy 'n praatjie gelewer het by Builders Warehouse.
POLOKWANE – Tydens die geleentheid het Visser die gehoor herhinner aan haar vorige besoek waartydens sy inwoners raad gegee het oor waterbesparing.
“Nog ‘n manier om minder water te gebruik is om gras en blare in tuinbeddings te gooi. Dit maak die grond klam en verseker dat die son nie al die vloeistof uit die grond uittrek nie,” vertel sy.
Sy sê ‘n komposhoop is baie belangrik en dat dit uit twee derdes bruin materiaal soos koerantpapier, kartonboks en bruin blare, en een derde groen materiaal soos groenteskille moet bestaan. Indien dit te groen is, begin die komposhoop stink.
“Die rede waarom ons nie sitrusvrug-skille gebruik nie, is omdat hulle te lank vat om af te breek. Jy kan wel dié skille vir ‘n maand in die vrieskas hou en dan op jou komposhoop te gooi. Sodoende breek dit vinniger af.
“Ander items wat jy in jou komposhoop kan gooi is aartappelskille, teesakkies, eierdoppe en eierbokse,” verduidelik Tanya.
Sy het ook vertel van die Bokashi Composting, ‘n asblik waarin jy bene, skille en doppe kan gooi wat die items afbreek.
Tanya vertel ook hoe om ‘n miniatuur groentetuin in jou kombuisvensterbank te maak. “Begin klein, gee die plante water en voed hulle.”
Laastens vertel sy die gehoor hoe hulle sade moet plant. “Moenie die hele pakkie sade saai nie. Plant ‘n klein bietjie op ‘n slag elke twee weke. Gee hulle elke dag water tot hulle opkom en dan eers elke tweede dag. . Die beste manier is om ‘n mieliemeelsak te gebruik om die sade te versprei.”
Sy vertel dat om ‘n goeie tuinier te wees moet jy kyk na wat jou bure plant en om te weet wat in die omgewing sal groei. “Gebruik inheemse plante en enige plant met ‘n grys blaar. Hierdie plante is sterk en benodig nie baie water nie.”




