Man dood na aanranding deur woedende gemeenskap
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n Nigeriese man Dinsdagmiddag glo deur ‘n groep woedende mense in Thabo Mbekistraat aangerand is waarna hy hulle ontvlug het, maar in Hoofstraat, Superbia omgekom het. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê nog niemand is in verband met die voorval gearresteer nie. “Volgens inligting is die 35-jarige man …

Die polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n Nigeriese man Dinsdagmiddag glo deur ‘n groep woedende mense in Thabo Mbekistraat aangerand is waarna hy hulle ontvlug het, maar in Hoofstraat, Superbia omgekom het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê nog niemand is in verband met die voorval gearresteer nie. “Volgens inligting is die 35-jarige man op die hoek van Dahl en Thabo Mbekistraat deur ‘n groep mense aangerand. Hy het daarin geslaag om hulle te ontvlug, maar het net tot by Hoofstraat gekom waar hy inmekaar gesak het. Hy het ‘n wond aan sy kop gehad,” sê Ngoepe.
Hy kon nie die motief agter die voorval of beweringe dat die oorledene ‘n dwelmsmokkelaar is, bevestig nie.
‘n Ooggetuie het aan Polokwane Observer gesê daar was glo nog ‘n persoon saam met die oorledene. “Hulle het aangehardloop gekom, die een was kaal en die ander net sy kouse en onderbroek aangehad. Hulle klere is vermoedelik deur hul aanvallers afgeskeur. Die naakte man het in die rigting van die begraafplaas aanhou hardloop terwyl die ander man sy bewussyn op die sypaadjie verloor en gesterf het,” vertel die ooggetuie.
Volgens inligting is die oorledene blykbaar ook met van die dwelms wat hy na bewering verkoop het, ingespuit wat ook moontlik sy dood kon veroorsaak.
Ngoepe sê die beweringe sal deel van die ondersoek uitmaak en inwoners gewaarsku om nie by boendoegeweld betrokke te raak nie.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, James Espach by 082 576 0743 skakel.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Lede van die polisie se forensiese eenheid op die toneel in Hoofstraat waar ‘n man inmekaar gesak het nadat hy glo in Thabo Mbekistraat aangerand is.



