Misdaadstatistiek se probleemgebiede, polisie gryp in
Na die onlangse bekendmaking van die 2015/16 misdaadstatistiek het die Limpopo polisie in probleemgebiede soos Polokwane, Thohoyandou, Modimolle, Tzaneen, Lephalale, Seshego, Makhado, Tubatse en Groblersdal toegeslaan. Tydens hierdie operasies is 56 arrestasies gemaak en verskeie gesteelde goedere teruggevind. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die operasie is deur lede van misdaadintelligensie, sigbare polisiëring, speurtak, taktiese reaksie …

Na die onlangse bekendmaking van die 2015/16 misdaadstatistiek het die Limpopo polisie in probleemgebiede soos Polokwane, Thohoyandou, Modimolle, Tzaneen, Lephalale, Seshego, Makhado, Tubatse en Groblersdal toegeslaan.
Tydens hierdie operasies is 56 arrestasies gemaak en verskeie gesteelde goedere teruggevind.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die operasie is deur lede van misdaadintelligensie, sigbare polisiëring, speurtak, taktiese reaksie eenheid, Public Order Policing en misdaadvoorkomingseenheid gedurende verlede week tot en met Maandagoggend uitgevoer.
“Verdagtes vir oortredings soos onwettige besit van dwelms, dagga en vuurwapens en ammunisie, brandstigting, huisbraak en diefstal aangekeer.
“Ons het ses televisies, twee tabletrekenaars, 14 selfone, twee vuurwapens, 53 rondtes ammunisie, kontant, klankstelsels, onwettige sigarette, kosmetiese produkte en agt voertuie gekonfiskeer,” sê Ngoepe.
Hy sê die dwelms sluit onder andere nyaope en tik in terwyl die ammunisie vir minstens vier verskillende soorte vuurwapens geskik is. Die vermoedelik gesteelde voertuie se waarde word op R2,5 miljoen beraam.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het sy tevredenheid teenoor die eenhede uitgespreek en terselfdertyd kriminele gewaarsku dat die polisie hulle wel sal opspoor en arresteer.
Ledwaba het ook sy dank teenoor die gemeenskap uitgespreek omdat gereelde waardevolle inligting ontvang word en tot suksesvolle arrestasies lei.
Ngoepe sê soortgelyke operasies sal op ‘n gereelde basis in misdaadgeteikende gebiede ontplooi word om die net stywer om misdadigers te span.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto’s: Verskeie gesteelde goedere is tydens ‘n provinsiale operasie deur die polisie verlede week en gedurende die naweek gekonfiskeer.



