Erika tower tooisels met talentvolle hande op
Erika Bantjes vertel graag dat sy nie net een of twee vriendinne het nie, maar dat sy ‘n stad vol vriendinne het.
POLOKWANE – Haar naam is sinoniem met hare stileer en vroue regoor die stad besoek haar gereeld met die oog om nuut te voel en lyk.
Met meer ondervinding as waarvan ander vroue droom, bly Erika nederig met haar voete plat op die aarde. Sy praat ook nie graag oor haarself nie.
Erika vertel dat sy nie altyd ‘n haarkapper wou wees nie, maar dat sy eerder verpleging wou doen. Sy was op skool gereeld in die moeilikheid, want sy het ander kinders se hare gesny.
Na skool raai haar ma haar toe aan om as haarkapper te studeer en sy is na die Tegniese Kollege in Pretoria.
“Nadat ek klaar studeer het, het ek vir ‘n jaar in Pretoria gewerk waarna ek weer terug is na my tuisdorp, Mokopane, om my vakleerlingskap te voltooi.
Daarna het ek vir agt jaar in KwaZulu-Natal gewerk voordat ek en my man, Pierre, Polokwane toe getrek het.”
Erika vertel dat sy reeds 23 jaar in die bedryf is en 20 daarvan haar eie salon besit.
“My werk gaan nie oor wat ek doen nie, maar op wie ek dit doen. Dit is harde, emosionele werk. Ek sien hoe kinders groot word en hoe mense verander, van die een sny tot die ander.” Sy vertel dat haar werk nie een dag dieselfde is as die vorige dag nie.
Erika het ses jaar gelede The Complete School of Hairdressing begin waar studente vir haar soos haar kinders raak. Hier sien sy mense se lief en leed en sy geniet die intense interaksie met die studente.
Sy het ook in 2008 aan die Mrs United Nations skoonheidskompetisie deelgeneem.
“Ek geniet gemeenskapswerk en die publiek weet dit nie altyd nie. Die kompetisie het gegaan oor gemeenskapswerk en alles wat ons gedoen het, is beoordeel. Selfs ons gesinslewens en verhoudings met ons mans is beoordeel.
“Ons het in Danville uitgereik en dit was ‘n lewensveranderende ondervinding.
“Ek het die toekenning vir die mees stylvolste vrou ontvang en hulle het my geleer dit is nie wat jy dra nie, maar hoe jy dit dra.
“Ek is ook as tweede prinses in die kompetisie gekroon.”
Erika het ook reeds 13 Comrades Maratonne afgelê en die volle Ysterman kompetisie gedoen wat insluit swem, hardloop en fietsry. “Die laaste maraton, verlede jaar, was moeilik, aangesien my ma kort voor dit oorlede is.
“Ek het ‘n hemp gedra met die woorde I am a strong woman, because a strong woman raised me op ter herdenking aan my ma. My grootste trots is my man en kinders en ek kan saam met Celine Dion sê: “I’m everything I am because you love me”.
maretha@nmgroup.co.za



