Sewe dood, verskeie in padongelukke beseer
Die polisie is steeds besig om die sewe mense wat Saterdagaand in ‘n botsing op die R101 naby Pienaarsrivier dood is, te identifiseer. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek. “Volgens inligting het ‘n vragmotor met twee insittendes in ‘n noordelike rigting gery toe die voertuig trompop teen ‘n bakkie met …

Die polisie is steeds besig om die sewe mense wat Saterdagaand in ‘n botsing op die R101 naby Pienaarsrivier dood is, te identifiseer.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.
“Volgens inligting het ‘n vragmotor met twee insittendes in ‘n noordelike rigting gery toe die voertuig trompop teen ‘n bakkie met agt passasiers gebots het.
“Sewe van die bakkie se insittendes is op die toneel dood terwyl die bestuurder ernstig beseer is. Die twee persone in die vragmotor is nie beseer nie,” sê Ngoepe.
Die oorsaak van die botsing word nog ondersoek, maar spoed en roekelose en nalatige bestuur word nie uitgesluit nie.
Intussen is twee mense Sondag buite Giyani beseer nadat die bestuurder blykbaar beheer oor ‘n BMW verloor waarna dit omgeslaan het.
‘n Derde persoon is glo in ‘n sekondêre ongeluk beseer toe ‘n bakkie in ‘n stilstaande voertuig op dieselfde toneel vasgery het. Alle pasiënte is deur nooddienswerkers na die Nkhensani Hospitaal geneem.
Twee mense is later Sondagaand beseer nadat ‘n minibus op die R71 Tzaneenpad teen ‘n rondloperbees vasgery het.
Die polisie het gewaarsku dat motoriste versigtig moet wees en onmiddellik spoed moet verminder wanneer diere langs die pad wei en dat vee-eienaars verantwoordelikheid moet neem om hul diere ingekamp te hou.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: ‘n Persoon is tydens ‘n sekondêre ongeluk op ‘n toneel beseer waar ‘n BMW buite Giyani omgeslaan het.




