Oud-hoofseun inspireer wêreldwyd voor sy dood
’n Oudinwoner van die stad wat ‘n merkwaardige benadering tot sy naderkomende dood gehad het, is Vrydag oorlede. “Ek gaan vreesloos my dood tegemoet en beoog nie om voortydig by my begrafnis op te daag nie,” was Michiel Espach se inskrywing toe hy ‘n groep vir sy familie en intieme vriende gestig het om hul …

’n Oudinwoner van die stad wat ‘n merkwaardige benadering tot sy naderkomende dood gehad het, is Vrydag oorlede.
“Ek gaan vreesloos my dood tegemoet en beoog nie om voortydig by my begrafnis op te daag nie,” was Michiel Espach se inskrywing toe hy ‘n groep vir sy familie en intieme vriende gestig het om hul ingelig oor sy siekte te hou en sy emosies en gewaarwordinge
deurgaans te deel sedert sy lewe op 13 Augustus 2013 vir altyd verander het tot sy laaste inskrywing kort voor sy dood.
“Dit is my storie wat ek, my vrou, familie en vriende enduit sal skryf,” het hy hieroor gesê.
Espach, ‘n fiksheidsfanatikus en driekampatleet wat ook die uitmergelende Chicago Ysterman-kompetisie voltooi het, het toe pas die verdoemende nuus gekry dat hy met fase 4 longkanker gediagnoseer is en slegs ‘n 1% kans het om langer as vyf jaar te leef.
Sy positiwiteit en voorneme om voluit met dankbaarheid te leef en steeds ‘n verskil te maak, sowel as sy openlikheid en eerlikheid oor kanker en die dood is en was vir baie mense besielend. “Ek hoop dat iemand êrens iets daaruit kan leer en geïnspireerd raak, al is dit vir een minuut,” was sy mening.
Chirurgie, herhaaldelike chemoterapie en bestraling het nooit sy geesdrif vir die lewe gedemp nie.
“Toe die onkoloë in Desember (2016) bevestig dat die kanker na my brein versprei het en dat my lewensverwagting net in weke gemeet kan word, het ek op volle breinbestraling besluit om moontlik ‘n kort tydjie langer met my vrou, Janet, wie se liefde en sorg my soos ‘n warm kombers toevou, en my familie te spandeer ten spyte van die omvangryke newe-effekte.”
Espach het as hoofseun in 1989 aan Hoërskool Pietersburg met vyf onderskeidings gematrikuleer waar hy ook vir die eerste rugbyspan uitgedraf het, ‘n kranige karateka,
100 m-atleet en gedugte redenaar was.
“Hy het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak. Sy intelligensie en intrinsieke motivering was onblusbaar,” sê Tiaan Lee, ‘n onderwyser van Hoërskool Pietersburg wat vir drie jaar Espach se aardrykskundeleerkrag was.
Na skool het hy bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer en vir ‘n tyd in Suid-Afrika gewerk waarna hy in San Antonio in Texas by Tesoro Corporation, ‘n petroleumreus begin werk en vinnig groot opgang tot op visepresidentvlak gemaak het.
Gerda Espach Nel, sy suster het Dinsdag aan Polokwane Observer gesê dat hul ma, Gerrie Saterdag reeds na Amerika vertrek het om haar skoondogter by te staan waar ‘n lewensvieringseremonie vir hom sal plaasvind. Die familie sal later ‘n privaatseremonie in Suid-Afrika hou.
“My broer was topfiks en het nooit gerook nie, maar sy longkanker is deur ‘n onoorerflike geen veroorsaak wat die mutasie tot gevolg gehad het. Dié tipe longkanker word dikwels laat opgespoor omdat dit aanvanklik baie met griepsimptome ooreenstem.”
Benewens Janet, sy ma en suster word hy ook deur hul twee seuns, Seth en Scott, sy pa, Michiel sr en ‘n broer, Wilhelm oorleef.
Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com
Hooffoto: Michiel Espach is Vrydag oorlede. Saam met hom is sy vrou, Janet.



