Vyf aangehou oor beweerde wanbetaling van sekuriteitswagte
Die polisie is tans op ‘n toneel in Hans van Rensburgstraat waar vyf mense blykbaar deur ongeveer 30 sekuriteitswagte aangehou word hangende onderhandelinge oor salariskwessies. Tans is ongeveer drie polisielede en ‘n vierde persoon in die gebou van ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy om met die wagte te onderhandel. Die nuutste inligting is dat die wagte honger …

Die polisie is tans op ‘n toneel in Hans van Rensburgstraat waar vyf mense blykbaar deur ongeveer 30 sekuriteitswagte aangehou word hangende onderhandelinge oor salariskwessies.
Tans is ongeveer drie polisielede en ‘n vierde persoon in die gebou van ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy om met die wagte te onderhandel. Die nuutste inligting is dat die wagte honger is en kos eis.
‘n Man wie se vrou, skoonma en drie ander personeellede in die sogenaamde gyselaarsdrama vasgevang is, sê hy wou ongeveer 15:00 sy vrou gaan oplaai toe hy by die hek deur aggressiewe wagte voorgekeer en aangeraai is om te ry.
“Die besigheid is onlangs blykbaar onder besigheidsbestuur geplaas. Wagte het salarisse ontvang, maar nie die volle bedrag nie omdat daar nie genoeg geld is nie. Nou is hulle ongelukkig en eis volle salaris,” sê hy.
Die gemeenskap se hulp is ingeroep om op bystand te wees indien mannekrag nodig sou wees. Gemeenskaplede het in Marshallstraat bymekaar gekom – uit die gesigsveld van die ontevrede wagte omdat hulle glo oproerig raak sodra die gebou genader word. Volgens inligting was slegs twee polisie-offisiere toegelaat waarvan een glo adjunkkommissaris vir sigbare polisiëring, Lucas Tlako is.
Op die toneel is verneem dat die wagte nie gewapen is nie, maar dat daar wel skade aan die gebou aangerig is nadat ‘n staaldeur glo afgebreek is.
Storie: RC Myburgh
rc.observer@gmail.com
Hooffoto: ‘n Polisievoertuig op die toneel waar vyf mense glo deur ongeveer 30 wagte aangehou word weens ontevredenheid oor salarisse. Die voertuig links behoort aan Salute Security wat nie deur die voorval geaffekteer is nie. Die voorval het plaasgevind by Secure Crime Prevention. (Foto: RC Myburgh)



