Local NewsNews

Misdaad knak onder sy valkoog

Scheepers is reeds die afgelope 30 jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens betrokke

POLOKWANE – Polokwane se gebiedsbevelvoerdergeneraal, Jan Scheepers (49) droom daarvan om die stad ‘n voorbeeld te maak van hoe misdaad voorkom kan word.

Scheepers is reeds die afgelope 30 jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens betrokke, “en wou reeds as jong seun ‘n polisieman word”.

Dié droom is uiteindelik bewaarheid na hy sy tweejaardiensplig in die weermag voltooi het.

Hy het diens gedoen by verskeie stasies, was deel van die honde-eenheid vir byna 16 jaar en was daarna betrokke as bevelvoerder by die Sebokeng Polisiestasie.

In September 2016 maak hy en sy gesin hulle tuis in Polokwane, nadat hy as gebiedbevelvoerder aangestel word.

“Mens kan maar sê dat ek ‘n dromer is, want ek droom van ‘n stad waar dit veilig is vir familie en vriende om saam te leef,” vertel hy.

Sy benadering oor die stryd teen misdaad is een waarin verskeie rolspelers saamwerk.

“Die gemeenskap, die mense, is die polisie se oë en ore. Ons kan nie ons werk doen as die stadsburgers nie ons hande sterk maak nie. Die voorkoming van misdaad is doeltreffend wanneer daardie wisselwerking teenwoordig is.”

Hy motiveer die gemeenskap om met die polisie saam te werk.

“Wanneer ons saamwerk, sal daar nie plek wees vir misdaad nie – die risiko om gevang the word sal net te groot wees vir die misdadiger.”

Hy vind groot werksbevrediging wanneer die misdaadsyfers val en dit, meen hy, is die gevolg van mense wat hul werk met passie doen.

“As ‘n polisieman moet jy mense se belange bo jou eie stel: werk soos ‘n dienaar vandag en leef soos ‘n koning môre,” sê hy.

Dié werk is nie elke dag maanskyn en rose nie, en hy verduidelik verder hoe belangrik dit is om misdaadpatrone vas te lê, aangesien dit dan kan lei tot akkurate voorspellings in terme van waar misdaad volgende gaan voorkom.

‘n Hoogtepunt in sy loopbaan is toe hy in Augustus verlede jaar tot generaal bevorder is.

“Dit was vir my ‘n baie groot eer, maar daar kom ‘n groot verantwoordelikheid saam met so ‘n posisie.”

Hy is dankbaar teenoor sy ouers, wie hy sê sy lewe en roeping help vorm het, “hulle het my van dissipline en werketiek geleer, iets wat van onskatbare waarde is”.

Dis juis vanweë hierdie opvoeding dat hy geen tyd het vir swak dienslewering of korrupsie nie.

“Ek wil die polisie weer herstel, asook mense se vertroue in die polisie. Ek wil weer ‘n omgewing skep waar die gemeenskap die polisie kan vertrou en saam met hulle werk.”

Wanneer die besige man ‘n tydjie afknip, bring hy dit deur saam met sy vrou en twee dogters.

Hy het ook ‘n groot liefde vir die natuur, en om tuin te maak.

Sy geloof is ‘n groot motivering: “Die Here speel ‘n belangrike rol in my lewe. Hy’t my in hierdie rigting gestuur, nie omdat dit my werk is nie, maar ‘n roeping”.

Sy raad aan jongmense wat ‘n loopbaan in die polisie nastreef?

Werk hard, wees lojaal en eerlik, en streef om ‘n verskil te maak in die gemeenskap. Plaas hul belange bo jou eie, en moet nooit bang wees om meer te leer nie, sê hy.

Hy sluit af met ‘n oproep tot samewerking deur inwoners: “Kom ons werk saam, en maak Polokwane ‘n voorbeeld van ‘n veilige stad wat misdaad voorkom”.

calvyn@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button