Local NewsNews

Hetta neem leisels in Eufeeshuis kombuis

Hetta Hamann is heel tuis in die kombuis

POLOKWANE – Eeufeeshuis het ‘n nuwe gesig in die kombuis en sy belowe om met verrykende eetplanne op te kom.

Kombuisbestuurder, Hetta Hamann, het aan die begin van die maand by die Eeufeeshuis aangesluit waar sy die geleentheid om ander te help met beide hande aangryp.

Hetta het ‘n brandende liefde vir mense, veral om die in nood te help en was voorheen by pleegkinders betrokke waar sy vir vyf jaar lank self ‘n pleegouer was.

“As kombuisbestuurder hou ek algehele toesig in die kombuis en werk gesonde en heerlike spyskaarte vir die inwoners uit. Ek geniet dit vreeslik om met mense te werk en my nuwe pos bied vir my nuwe uitdagings. Ek het die geleentheid met albei hande aangegryp omdat ek daarvan hou om intens by mense betrokke te wees,” vertel sy met ‘n glinster in haar oog.

Een van die uitdagings waarna sy uitsien is die diversiteit van die inwoners se spyskaarte aangesien nie almal in Eeufeeshuis dieselfde kos eet nie.

“Party van die inwoners is diabete en ander kan nie alle soorte kos eet nie. Daarby het ek ook nie ervaring om met mense wat gestremd is te werk nie so dit is nog ‘n uitdaging en belewenis waarna ek uitsien,” glimlag sy.

Hierdie is ook Hetta se eerste ervaring as ‘n kombuisbestuurder en as deel van haar pligte gaan sy ook by funksies wat in die APD-saal gehou word betrokke wees.

“Om met mense wie gestremd is te werk het jy empatie en simpatie nodig, asook uithouvermoë en geduld. Dit sit nie in enigeen se broek nie en ‘n mens moet bo en behalwe al die ander eienskappe ook vir jou medemens omgee en goeie menseverhoudings hê.

“Hierdie mense is baie liefdevol en jy moet baie van jouself vir hulle gee. Hulle is vreeslik behulpsaam en ‘n mens kan definitef by hulle leer, iets waarna ek baie uitsien.”

Hetta is ‘n familiemens en spandeer graag haar vrye tyd saam met haar familie op die plaas.

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button