Maryna sal gemis word
Bekende terapeut, Maryna Kruger is Vrydag, 30 Junie, oorlede weens longontsteking.
POLOKWANE – Die dood van stigter en hoofuitvoerendebeampte van die vier Hoop vir Kinders-tehuise in Polokwane, Maryna Kruger, laat ‘n groot leemte in baie mense se lewens.
Maryna is Vrydag in die Limpopo Mediclinic oorlede nadat sy bykans drie weke gelede in die hospitaal opgeneem is weens longontsteking.
Sy was ‘n bekende gesig in die stad se welsynkringe en sal ‘n groot leemte laat, is die universele woorde van talle in die gemeenskap.
Een van haar vriendinne, Daleen Curtin, sê Kruger het die werk van 17 mense gedoen en haar dood het ‘n yslike leemte gelos.
“Sy het benewens haar praktyk en die kinderhuise en beradingskursusse ook geldinsamelingsprojekte vir die kinders gedoen om op uitstappies en vakansies te gaan. Ons is almal verslae. Sy was die middelpunt van so baie aktiwiteite, toegewyd en objektief. Ten spyte daarvan was sy ‘n baie privaat mens wat haar gesin beskerm het. Sy en haar man Frans was soos Vinkel en Koljander en het sáám gefunksioneer,” sê Daleen.
Lydia Strydom, medewerker by Hoop vir Kinders, sê Maryna was die stigterslid van die organisasie. Lydia het Maryna sedert 1996 geken en het saam met haar by Hoop vir Kinders in 2004 begin werk.
“Dit was haar visie en droom. Sy was ‘n ongelooflike mens met baie hooi op haar vurk. Sy het altyd die ekstra pad geloop en haar dryfveer was haar liefde vir mense en veral vir kinders wat nie geleenthede gehad het nie. Sy was traumaberader, huweliksberader en egskeidingsbegeleier en sy en Frans het huwelikskampe gereël. Sy het haarself nooit eerste gestel nie. Daar is só baie wat mens van haar kan sê.”

Haar seun, Francois, sal ter herinnering aan sy ma voortgaan met die nalatenskap wat sy opgebou het in hul praktyk en met die Hoop vir Kinders-projek.
Maryna laat haar man, Frans agter en drie kinders: Qunessa en Francois asook hul gades, en Ruan.
Maryna se man, Frans, het ‘n brief aan haar getuig van sy liefde vir haar. Lees die brief in hierdie week se Review Weekend.
Die familie wil graag baie dankie sê aan vriende en familie vir die ondersteuning deur hierdie moeilike tyd. Die familie versoek dat, in plaas daarvan dat almal geskenke en blomme aan die familie gee, hulle eerder ‘n donasie aan Hoop vir Kinders sal maak, aangesien dit Maryna se wens sou wees. “Dit was haar hart en dit is ook haar nalatenskap.”
‘n Diens ter nagedagtenis aan Maryna word more (Vrydag) om 11:00 vanuit die Agapé-gemeente te Kiddslaan gehou. Vir donasies kan Hoop vir Kinders se kantoor geskakel word by (015) 295 7934.




