Local NewsNews

Mokopane gesin verloor als in huisbrand

Die prag dubbelverdiepinggrasdakhuis van 'n plaaslike sakeman is verlede Vrydag deur vlamme verswelg terwyl hy langs die siekebed van sy vrou in Pretoria was.

MOKOPANE – Jan Visser (snr.) van Qila Grassnyerdienste se huis op Planknek het binne minute tot op die grond afgebrand en hy en sy vrou, Lenie, het bykans al hulle besittings verloor.

Visser vertel aan Bosveld hy het laatmiddag ‘n oproep ontvang dat sy huis aan die brand is.

‘n Paar meubelstukke wat die gemeenskap kon red.

“Ek het die ergste verwag omdat dit ‘n grasdakhuis is. Ek het Saterdagoggend Mokopane toe gery en gesien dat daar werklik niks oor is nie. Die Arend Buurtwag het die Vrydag die noodroep vir hulp oor hulle radio gekry en die gemeenskap van die Planknekhoewes het hulle na die toneel gehaas. Sommige het selfs hulle lewe gewaag om te kyk of hulle ‘n paar goed kon red. Ons is oneidig dankbaar teenoor die gemeenskap.”

Visser sê dit was vir hom erg om die nuus aan sy vrou oor te dra.

“Sy lê met kanker in die hospitaal en is deur ‘n baie moeilike tyd. Sy is al deur ‘n hele paar operasies en behandelings en ek is amper permanent langs haar bed. My vrou vat die nuus sleg. Ons het antieke meubels in die brand verloor wat ons saam bymekaar gemaak het. Sy het soveel sentiment en waarde geheg aan die meubels.”

Volgens Riki Lourens het sy om 17:00 oor die burgerlikeradio geroep dat Visser se huis brand.

Lourens sê: “My man en seun het drie brandblussers by ons huis gegryp en gehardloop om die brand te probeer blus, maar dit was tervergeefs. Die vlamme was oorweldigend.”

Visser se skoondogter, Adele Visser sê: “Ons het die brandweer talle keer geskakel, maar geen antwoord gekry nie. Vriende het vriende gekontak en op die end het hulle Lappies Labuschagne van die verkeersafdeling opgespoor en hy het op sy beurt vir Tobie van Deventer van die brandweer in die hande gekry. Die brandweer het 45 minute later opgedaag. Dit was reeds te laat om die huis te red.”

Die Stasie Offisier brandvoorkoming operasioneel, Tobie van Deventer van Mokopane Brandweer koes vir die hewige hittegolwe van die vlamme.

Adele sê as dit nie vir die buurtwag was nie, het haar ouers alles verloor. “Die mense het hulle lewens gewaag. Hulle het selfs ons huis wat ook op die hoewe is, met tuinslange natgespuit om te keer dat dit nie aan die brandslaan nie.”

Die Vissers bedank almal wat gehelp het en steeds daar is vir die familie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button