POLOKWANE – Vir die afgelope 22 jaar is Hendrien van der Wath deel van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé- familie nadat sy aanvanklik as aflos-onderwyser in 1995 daar begin het. “Ek was in 1996 permanent aangestel en het wiskunde en later ook wiskunde geletterdheid gegee,” vertel sy.
Sy het in Limpopo grootgeword en het haar skoolloopbaan aan Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen voltooi. Haar eerste pos was in Zeerust en daarna het sy by Hoërskool Louis Trichardt aangesluit.
“Wiskunde geletterdheid word nou by Tom Naudé uitgefaseer en tegniese wiskunde ingefaseer. Ek gaan die onderwys hartelik mis, dit is vir my ‘n roeping en ek was gelukkig genoeg om my roeping te kon uitleef. Dit was daadwerklik ‘n eer om die leerders deur die jare te help.”
Sy vertel hoe die gesindheid om ten alle tye positief te bly, een van haar grootste uitdagings deur die jare was. “Een baie belangrike ding is die ondersteuning wat ek by die onderskeie hoofde gekry het, ek was baie bevoorreg. Ek het ook skoolgehou vir sout-van-die-aarde kinders, ek is deel van die Tommie-familie en sal by geen ander skool wil skoolhou nie.”
Hendrien sien uit daarna om saam met haar man, Sias, hul toekomsdrome uit te leef. “Onderwysers moet onthou dat kinders jou dophou. Hulle kyk wat jy aan het, wat beteken jy moet ordentlik aantrek. Jy moet altyd ook ‘n kind terug groet en ‘n goeie voorbeeld stel. Pas ook streng dissipline toe van dag een af,” is haar raad aan diegene wat in die onderwys belangstel.




