Local NewsNews

Ongeluk eis ses insluitend baba

Ten spyte van onbevestigde statistiek dat padsterftes glo afgeneem het, is die einde van die feesseisoen Maandag deur twee skreiende voorvalle gekenmerk waarin ses mense, insluitend ‘n babaseun, tydens ‘n ysingwekkende botsing dood is. In die ander voorval is ‘n spoedvraat wat meer as 11 keer die wettige alkoholperk oorskry het en teen 206 km/h …

Ten spyte van onbevestigde statistiek dat padsterftes glo afgeneem het, is die einde van die feesseisoen Maandag deur twee skreiende voorvalle gekenmerk waarin ses mense, insluitend ‘n babaseun, tydens ‘n ysingwekkende botsing dood is. In die ander voorval is ‘n spoedvraat wat meer as 11 keer die wettige alkoholperk oorskry het en teen 206 km/h buite die stad gejaag het, gearresteer.
Die kop-aan-kop botsing tussen ‘n Volks­wagen Polo en Mercedes-Benz het Maandag op die N1-Noord tussen Louis Trichardt en Polokwane naby Botlokwa gebeur. Ses persone is dood en een ernstig beseer. Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Matome Moremi het die ongeluk bevestig en gesê een van die bestuurders het waarskynlik onveilig verbygesteek en spoed het glo ook ‘n rol in die oorsaak van die botsing gespeel.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moa­tshe Ngoepe sê tot dusver is een van die oorledenes as Julia Maponya van Maja buite Lebowakgomo geïdentifiseer. Die ander slagoffers is van Zimbabwe en nog nie uitgeken nie.
Verkeersbeamptes het dieselfde dag ‘n 36-jarige bestuurder van ‘n BMW op Ysterberg (N1-Suid) buite die stad gearresteer nadat hy 206 km/h gery het. Na verdere ondersoek is vasgestel dat die bestuurder ook onder die invloed van drank was. Moremi het bevestig dat die bestuurder se bloedalkohol­vlak teen 0,58 g/100 ml gemeet is – meer
as 11 keer hoër as die wettige perk van
0,05 g/100 ml. Nóg Moremi nóg Ngoepe kon bevestig of die bestuurder wel Dinsdag in die Mokopane landdroshof verskyn het.
Onbevestigde statistiek toon dat 51 min­der mense tydens vanjaar se feesseisoen op Limpopopaaie in ongelukke in vergelyking met die 2016/17 seisoen omgekom het.
Volgens die voorlopige syfers is 181 men­se tussen 1 Desember en 9 Januarie dood in vergelyking met 232 oor dieselfde tydperk ‘n jaar gelede.
Moremi kon nie enige finale syfers beves­tig nie en sê die statistiek vir die tyd sal deur die nasionale departement van vervoer bekendgemaak word.
Hy het op 28 Desember ‘n persverklaring uitgereik waarin LUR Makoma Makhurupetje haar kommer oor die groot aantal voetgangers wat Desember doodgery is, uitgespreek het. Statistiek wat toe deur Moremi verskaf is toon dat 290 ongelukke en 130 sterftes van 1 tot 27 Desember op die provinsie se paaie aangemeld is.
Toe reeds het die dodetal uit 46 bestuurders, 45 passasiers, 38 voetgangers en een motorfietsryer bestaan.
Hy het gewaarsku dat verkeersbeamptes steeds regoor die provinsie ontplooi is. “Die skole begin eers volgende week en ons verwag hoë verkeersvolumes wanneer mense eers oor die naweek terugkeer huis toe. Beamptes sal steeds op hul pos wees om oortreders aan die pen te laat ry en tot aan die einde van die Paasnaweek hoë sigbaarheid op die provinsie se paaie sal handhaaf.”
Hy het ook verwys na ‘n voorval waar agt beamptes in Mopani vroeg in Desember vir korrupsie gearresteer is nadat hulle glo onwettig kode 14-lisensies uitgereik het. Twee bestuurders is terselfdertyd vir omkopery in hegtenis geneem en gewaarsku dat dié misdaad nie geduld sal word nie.
Moremi het motoriste gemaan om by die spoedgrens te hou en nie onverskillige kanse te vat om ander voertuie verby te steek nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button