Local NewsNews

Spogpunte vir Mokopane, Mookgophong skole

Puik uitslae en talle onderskeidings is deur die matrikulante van 2017 behaal wat ‘n blink toekoms vir sommiges beteken.

MOKOPANE – Die meeste van hulle het met ‘n trotse glimlag van hul skool weggestap toe hulle hul finale uitslae en matrieksertifikate ontvang het.
Alhoewel die matrikulante in skole op ons dorp en Mookgophong goed gevaar het, is dit ‘n hartseer waarheid dat Limpopo naas Oos-Kaap die laagste slaagsyfer van 65,6% behaal het met die Vrystaat as top presterende provinsie met ‘n slaagsyfer van 86%.
Volgens die DA in Limpopo wens hulle die klas van 2017 geluk met die verbetering van slaagsyfer met 3,1%. Die kandidate wat ‘n BA kan gaan studeer het ook van 18% tot 21% groei getoon.
“Ons is wel bekommerd dat van die 127 555 vol- en deeltydse kandidate van 2017, ‘n getal van 44 328 nie eksamen geskryf het nie. As dié leerders in ag geneem word sal die ware slaagsyfer 42,8% wees,” sê Jacques Smalle, DA Provinsiale Woordvoerder van Onderwys.
Mokopane English Combined School (MECS) en CVO-Skool Potgietersrus spog weer vanjaar met ‘n 100% slaagsyfer terwyl Waterberg High School 97,5% behaal het, Hoërskool Piet Potgieter 97,6% en Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong 95,18%.
Die CVO-Skool Potgietersrus se matriekklas van 19 leerders spog vanjaar met altesaam 29 onderskeidings met Hanro Schoeman en Louis Boshoff, hoofseun, wat voorloop as top presteerders met sewe onderskeidings elk. Mariska Genis is met vier onderskeidings kort op hul hakke.
Skoolhoof Jan Harmse is in sy noppies en sê: “Ek is weereens trots op my matriekgroep. Dit was ‘n groot spanpoging van die leerders, ouers en personeel. Ons raak die IEB-stelsel nou baas.
“My boodskap aan die matriekgroep van verlede jaar is om hul bes te gee vorentoe. Ek wil daarby hê vanjaar se gr. 12-groep moet net so hard soos die vorige matrikulante leer want slegs deur harde werk sal ons die wa deur die drif kan trek”.
MECS se matrikulante spog met ‘n totaal van 33 onderskeidings en 23 matrikulante wat universiteitstoelating ontvang het.
Die top matrikulant is Hamza Ahmed met sewe onderskeidings, Mariam Cachalia, hoofmeisie, het vyf onderskeidings behaal en Tshepo Maredi en Lebogang Mahanyele het elk vier onderskeidings behaal.
Skoolhoof, dr. Adriaan Lubbe, vertel dat hy trots is op die uitslae en hoop dat dit so sal volhou.
“Die matrieks wat skool verlaat kan gerus weer by ons kom kuier om ons van hul lewensreis te vertel, ek wens hulle sterkte toe.”
Die gr. 12-leerders van Waterberg High School was in totale opgewondenheid getooi om hulle matrieksertifikate te ontvang en dié skool het ‘n totaal van 83 onderskeidings opgeraap en ook ‘n algehele vierde plek in die Waterbergdistrik.
Matrikulante met ‘n persentasie van 66,67 % kan verder vir ‘n BA-graad studeer.
Drie van hul matrikulante het elk ses onderskeidings behaal wat hoofseun Tumelo Moremi, Fortunate Rammuta, hoofmeisie, en Khomotso Radebe insluit.
André Horn, Skoolhoof, sê: “Ons matrikulante het ‘n groot persentasie universiteitsvrystelling ontvang wat klaar goed is. Ons verwagtinge is oortref, alhoewel die streek baie gr. 11-leerders wat moes druip oorgeplaas het vir 2017. Ons is baie verlig oor ons skool se prestasies. Ek is baie trots en sê dankie aan elkeen wat hard gewerk het. Sterkte aan hierdie jaar se matriekgroep”.
By Hoërskool Piet Potgieter loop die kompetisie soos elke jaar hoog en spog sommige matrikulante met talle onderskeidings. ‘n Uitmuntende 127 onderskeidings is bereik en 58,87% van die matrikulante kan vir ‘n BA-graad studeer.
Kurt Kruger staan uit in dié groep met sewe onderskeidings terwyl Bianca Koekemoer die merk net-net gemis het met ses onderskeidings. Cecilia Engelbrecht, hoofmeisie, en Boka Mahlong loop gelyk met vyf onderskeidings.
Skoolhoof, Jimmy Steele, sê: “Ons is baie dankbaar en trots op die matrikulante wat geslaag het. Ons as skool is nie tevrede met die slaagsyfer van vanjaar nie, ons wil niks swakker as ‘n 100% behaal nie.
“Ek sal graag wil sien hoe ouers en leerders vanjaar ‘n vennootskap vorm sodat almal saam kan werk om uitstekende uitslae te behaal.
“Aan die matrieks van hierdie jaar vra ek dat hulle elke geleentheid wat aan hul gebied word aangryp en hard werk tydens eksamens”.
Op Mookgophong wys Hoërskool Hans Strijdom die slim wat in hulle steek en spog dié skool se klas van 75 matrikulante met 29 onderskeidings en Nico Genis is as top leerder gekroon met agt onderskeidings, Anneri Gravett volg kort op sy hakke met sewe onderskeidings terwyl PJ Botha en Anthony Tomsett elk drie onderskeidings behaal het.
Skoolhoof, George Klopper, sê: “’Dis altyd goed vir ons skool om ‘n 100% slaagsyfer te kry maar ek weet ons leerders het hulle bes gegee. Ek is baie trots en tevrede.
“Aan al die gr. 12-leerders van hierdie jaar wil ek vra dat daar nie net hard gewerk moet word nie maar dat daar meer aandag aan eksamens gegee moet word”.
Bosveld wens elke matrikulant geluk.
lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button