POLOKWANE – Dié koshuis is laat verlede jaar voltooi en het vanjaar die eerste leerders vir die skooljaar ingeneem.
Eric Egen is die koshuisvader en verduidelik dat leerders deur ‘n keuringsproses moet gaan voor hulle plek in die koshuis kan verseker.
“Ons het plek vir 40 leerders in die koshuis. Van die vereistes waaraan leerders wat in die koshuis wil woon moet voldoen is dat hulle buite die stad woonagtig moet wees, soos byvoorbeeld in Vivo, en akademies goed presteer. In die koshuis studeer hulle in hul kamers en indien hul punte verswak sal daar deur personeel opgetree word om die saak aan te spreek,” verduidelik hy.

Eric se vrou, Sandra, is die matrone en hulle het besluit om deel ven die koshuis te word nadat die Hoofuitvoerende Beampte van die skool, Eben Lingenfelder, hulle genader het.
Sandra het haar eie kleuterskool gehad en Eric is ‘n onderwyser by Heuwelkruin. Hulle sorg nou vir die leerders in die koshuis asof hulle in hul huis bly. “Ons sien om na hulle en maak seker dat hulle hul huiswerk doen en gesond eet.”

Alhowel daar verkies word dat die leerders oor naweke huis toe gaan, sal hulle mag inbly tot na die sport indien daar sport op Saterdae is. Daar is ‘n groot leefvertrek met ‘n televisie met DStv in die koshuis. Die kamers, wat deur twee leerders gedeel word, het elk hul eie badkamer met ‘n stort, wasbak en toilet.




