BREAKING NEWS – Roelf Coetzee sterf na tweede hartaanval
‘n Bekende in akademiese en atletiekkringe in die stad, Roelf Coetzee (58) is vroeg vanoggend in Polokwane na ‘n hartaanval oorlede. Coetzee het volgens sy lewensmaat van die afgelope 16 jaar, Ria Schräder, ‘n week gelede ook ‘n hartaanval gehad en is in Mediclinic Limpopo opgeneem waar sewe stente in sy are geplaas is. “Hy …

‘n Bekende in akademiese en atletiekkringe in die stad, Roelf Coetzee (58) is vroeg vanoggend in Polokwane na ‘n hartaanval oorlede.
Coetzee het volgens sy lewensmaat van die afgelope 16 jaar, Ria Schräder, ‘n week gelede ook ‘n hartaanval gehad en is in Mediclinic Limpopo opgeneem waar sewe stente in sy are geplaas is. “Hy het goed op die behandeling gereageer, maar vanoggend omstreeks 02:00 kortasem geraak en gevra dat ons hom hospitaal toe neem. Sy toestand het drasties versleg en hy is ‘n paar uur later oorlede.”
Coetzee was die afgelope 33 jaar as dosent in Dierkunde aan die Universiteit van Limpopo verbonde en was nou by Polokwane Atletiekklub (PAC) betrokke en ook voorsitter van Limpopo Atletiek se padwedloopkommissie.
Schräder sê dat sy hom sal onthou as ‘n persoon wat nooit iets sleg van iemand anders sou sê nie en altyd die goeie gesien het.
Leon Bannau, sekretaris van Limpopo Atletiek, meen Coetzee laat ‘n groot leemte. “Hy was ‘n toegewyde sportadministrateur en my mentor as padwedloopbeampte. Ek sal die kosbare lesse wat hy my geleer het, nooit vergeet nie.”
Coetzee word ook oorleef deur twee seuns, Emile en Almar, ‘n dogter, Carmen, en drie kleinkinders.
Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



