NewsSchools

Adjunkhoof, Vanessa Kachelhoffer, ‘n geesdriftige voorvatter

Sy trap diep spore in die ge­skiedenis van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé (Tommies) en haar betrokkenheid op akademiese- en kultuurgebied of langs die sportveld spreek van haar liefde en passie vir onderwys. Vanessa Kachelhoffer is verlede week as adjunkhoof van Tommies aangestel en sê: “Ek is super opgewonde want na soveel jare se harde …

Sy trap diep spore in die ge­skiedenis van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé (Tommies) en haar betrokkenheid op akademiese- en kultuurgebied of langs die sportveld spreek van haar liefde en passie vir onderwys.
Vanessa Kachelhoffer is verlede week as adjunkhoof van Tommies aangestel en sê: “Ek is super opgewonde want na soveel jare se harde werk, word ek nou daarvoor beloon. Die onderwys bied soveel uitdagings en ek is nou in ‘n posisie om ‘n groter verskil te maak.”
Haar visie as adjunkhoof is onder meer om die persepsie rondom tegniese skole te verander en die belangrike rol daarvan uit te dra sodat graad 7-leerders en ouers ingeligte besluite neem wanneer hoërskoolinskrywings oorweeg word.
Tommies is vir haar ‘n skool wat vir leerders ‘n voorsprong gee. “Tegniese skoolleerders se verpligte vakke is moeilik, maar wanneer ‘n Tommie na matriek by die hek uitstap, is hy ‘n hele paar treë voor leerders wat in ‘n akademiese skool was. Daar is ‘n groot tekort aan tegnici en ons leerders het die voorsprong om dadelik ‘n pos in dié rigting te aanvaar sodra hulle matriek voltooi het.”
Kachelhoffer sê sy verstaan seuns baie goed. “Seker omdat ek vier my eie het. Ek vrek oor die matrieks en geniet hul verskriklik. Ek gee steeds Afrikaans vir graad 11 en 12 omdat Afrikaans soveel onderrigmoontlikhede bied waarmee ‘n onderwyser ‘n wêreld na buite vir leerders kan open.”
Hoofseun, Damian Arle, sonder haar vermoë om met kinders te werk en hulle te motiveer uit. “Sy staan deur dik en dun by leerders en sorg nie net dat hulle slaag nie, maar dat hul góéd slaag.” Haar werkvermoë en lojaliteit teenoor die skool is volgens hom van haar beste eienskappe.
Dissiplineprobleme, leerkrag­tekorte en kurrikulêre verande­ringe is volgens haar van die grootste uitdagings in die onderwys. “Baie leerders kom uit gebroke huise en moet baie versigtig hanteer word. Ander is dalk net stout omdat hulle aandag soek. Posvoorsienings is baie afgeskaal en kurrikulums wat gereeld verander, bied groot uitdagings vir leerkragte wat op hul tone moet bly.”
Sy is ‘n gebore onderwyser wat as klein dogtertjie vakansies vir haar neefs en niggies skoolgehou het. In 1994 het sy by Tommies aangesluit. Na net vier jaar word sy as departementshoof vir Afrikaans, lewensoriëntering en skeppende kunste aangestel en in 2015 word sy waarnemende hoof akademie. In 2007 word sy as distriksfinalis vir uitnemendheid in sekondêre onderwys aangewys en in 2014 word die Afrikaans departement deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) as nasionale naaswenner in die kategorie vir bevordering van Afrikaans as akademiese taal aangewys.
Of dit nie genoeg is nie het Kachelhoffer in 2004 ‘n mentorskapkursus voltooi en in 2014 haar bekwaam om as assessor in uitkomsgebaseerde onderrig op te tree.
‘n Mondvol van iemand wat nie op haar mond geval is nie.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button