Tommies wil mikpunt vir kaskarprojek oorskry
Môre (Vrydag) word Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se terrein weer in ‘n resiesbaan omskep vir ‘n dag deur groot opwinding gekenmerk. Dit is weer tyd vir Tommies se grootste geldinsamelingsprojek, die kaskarresies wat van elke Tommie en onderwyser ‘n legende maak, volgens adjunkhoof, Vannessa Kachelhoffer. “Buiten die geld wat inrol, word daar bande tussen …

Môre (Vrydag) word Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se terrein weer in ‘n resiesbaan omskep vir ‘n dag deur groot opwinding gekenmerk.
Dit is weer tyd vir Tommies se grootste geldinsamelingsprojek, die kaskarresies wat van elke Tommie en onderwyser ‘n legende maak, volgens adjunkhoof, Vannessa Kachelhoffer.
“Buiten die geld wat inrol, word daar bande tussen Tommies gesmee wat vir jare nadat hul skool verlaat het, steeds gekoester word. Kaskarstoot vereis saamwerk, saamswoeg en saamsweet soos wat net Tommies dit kan doen,” sê Kachelhoffer. Die resies begin 12:00.
Verlede jaar is byna R250 000 ingesamel danksy die gemeenskap wat nie net uit hul beursie nie, maar ook uit hul harte gegee het. Die graad 9-leerders het met die louere weggestap met ‘n indrukwekkende totaal van
R81 433.15. Die graad 9A-klas onder leiding van Theonette Pelser het die meeste geld,
R32 854,24, ingesamel. Die beste geldinsamelaar in graad 9A was GW Britz met R13 000. Graad 12A is met 88 rondes as wenners gekroon.
Die kaskarorganiseerder, André Louwrens is vol vertroue dat Tommies danksy harde werk en deursettingsvermoë vanjaar se mikpunt van R300 000 sal verbysteek.
“Polokwaniërs, is die rykdom wat mens weggee tog nie die einste rykdom wat jy vir altyd sal behou nie? Wanneer mens met jou hart na dinge kyk, besef jy opnuut dat dit wat werklik van waarde is nie met die blote oog sigbaar is nie,” meen skoolhoof, Piet Holtzhausen.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



