[VIDEO] Bobaas broodbak makliker as wat jy gedink het
In vandag se gejaagde en moderne lewe kan die konsep van self broodbak in pleks van die gesnyde een op die winkelrak te gryp dalk iets wees wat nie goed sit by almal nie. Maar volgens Sarah Roux, gesoute bakster en jarelange lid van die Vroue Landbou Unie (VLU), is dit baie makliker om te doen as wat ‘n mens dink.

POLOKWANE – “Ek bak al vir jare lank en dit is iets waaroor ek baie passievol is en vreeslik baie geniet. Ek het ook al by verskeie bak kompetisies beoordeel en bak sowel as kos maak is iets wat in ons as ‘n familie se bloed is want al my kiinders is bobaas kokke.’
Sy meen om die gewone brood so effe op te kukker kan die deeg gevleg word, dit lyk nie net mooi nie maar kan dan makllik in stukke gebreek word, sommer met die hand. “Dit is so ‘n veelsydige resep, jy kan knoffel en kaas in die brood sit en dit rooster. Jy kan selfs dadels of rosyne, net wat jou hart begeer, gebruik.”
Dit neem sowat 12 minute in die oond om gaar te word en is ‘n baie maklike resep. “Daar is geen rede hoekom jy nie elke dag vars brood vir jou gesin kan voorsit nie, dit sal ook jou sak beter pas.”
Vlegbrood resep
Bestanddele:
- 2ml sout.
- 6 koppies meel.
- 50ml suiker.
- 2 sakkies gis.
- 50ml margarien.
- 500ml melk.
Metode:
In ‘n pot smelt die margarien, suiker, gis en melk oor lae hitte. Sif al die droë bestanddele saam. Voeg dan die nat en drë bestanddele saam en begin om die deeg te knie. Sodra al die bestanddele saam gemeng is en die deeg ‘n elastiese tekstuur het, maak drie eweredige balle. Rol dit so effe uit en druk die punte aan een kant bymekaar. Begin dan om die stroke te vleg. Bak teen 180 grade vir ongeveer 12 minute of tot goudbruin.




