Local NewsNews

Boksafrigter Lovey sterf skielik

Die stad het een van sy bekendste en geliefste inwoners, Lovey Duvenhage, verlede Woensdag aan die dood afgestaan nadat hy aan ‘n hartaanval gesterf het.

POLOKWANE – Hy was 70 jaar oud en was veral bekend vir sy bydrae tot boks in die stad en die provinsie.

“Hy het altyd almal gehelp met enigiets, hy was goed met sy hande, het voertuie reggemaak en was ’n goeie, dog streng, pa,” vertel een van sy oud-boksers.

Lees ook: Stad groet bekende: Leon Davel se gedenkdiens

Sy vrou van 48 jaar, Catharina, vertel dat Lovey, soos hy alombekend was, as st. 6-leerder na die destydse Pietersburg gekom het. Hy was die eienaar van die destydse Lynx Boksklub en het talle mense afgerig in boks, en saam met boksers oorsee gegaan om daar mee te ding. Hy was ook die President van Boxing SA.

‘n Jarelange vriend, Kallie Snyman, sê dat Lovey ‘n saggeaarde persoon was wat altyd sy medemens bo sy eie belange gestel het.

“Amateurboks was sy passie, en hy was ook betrokke by die afrigting van sy eie vier seuns wat almal groot hoogtes in boks bereik het as Verre-Noord en Noord-Transvaalkampioene asook S.A. kampioen (Jan) en Protea-kleure (Braam). Rudi was die S.A. Ope-kampioen in 1986 en Nico was S.A. kampioen in 2000. Lovey self het sy Protea-kleure verwerf toe hy as S.A.-afrigter gekies is vir deelname in Kopenhagen, Denemarke in 2002.” Hy was ook betrokke by die afrigting van Kallie en sy seuns, asook Kallie se broer, Ampie.

Die egpaar se vier seuns is nie meer by boks betrokke nie.

“Lovey het in 2002 as hoofafrigter vir die laaste maal saam met ‘n groep boksers Kopenhagen toe gegaan. Daarna het hy bloeddrukprobleme gekry en die boks gelos,” vertel Catharina.

Sy vertel dat die dokter haar ingelig het dat Lovey sowat vier maande gelede reeds ‘n ernstige hartaanval moes gehad het wat skade aan sy hart veroorsaak het. Sowat agt dae voor sy afsterwe verlede week het hy weer ‘n groot hartaanval gehad. Hy word oorleef deur een broer, Robert, en ’n suster, Monica. Benewens Catharina en sy vier seuns en drie skoondogters laat hy 12 kleinkinders na.

“Ek sien hom steeds oral in die huis. Ons was sielsgenote en 48 jaar getroud. Ons het alles gedeel en die verlange gaan nooit weggaan nie,” sê Catharina.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button